Gewapende rowers begin weer woonhuise teiken, met ’n Jakobsbaaise skilder en sy vriendin en twee Vredenburgse kinders die jongste slagoffers.

Vrydagoggend 14 Julie omstreeks 03:30 het ’n vreemde geluid die 56-jarige vriendin van ’n skilder in ’n huis op Jakobsbaai laat wakkerskrik. Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het sy opgestaan om te gaan kyk, maar aanvanklik niks gesien nie.

Met haar terugkeer het sy drie mans langs die bed, waar die skilder nog gelê en slaap het, aangetref.

Die rowers het die paartjie gedreig en aangedring op geld en die kluis se sleutels.

Die paartjie is aangeval en met skroewedraaiers gesteek voordat die rowers met twee televisiestelle, ’n goue ring, twee skootrekenaars, twee selfone en ’n Hyundai Tucson gevlug het.

Met die polisie se ondersoek ná die aanval is bevind dat die rowers toegang tot die huis verkry het deur ’n venster oop te forseer.

. In nog ’n voorval van huisroof was twee kinders, ’n vyftienjarige seun en sy sesjarige boetie, die slagoffers van rowers.

Volgens Helfrich is dié seuns tot op hede die jongste slagoffers van dié soort misdaad in die Weskus-polisiedistrik.

Vyf gewapende mans het Sondagaand omstreeks 23:50 die deur na hul huis in Chroomstraat, Ongegund, oopgeskop en binnegegaan. Die rowers het die ouer seun aangeval en met ’n mes in sy linkerbobeen gesteek. Tydens dié aanval het die sesjarige kind uitgeglip en gaan hulp soek.

Terwyl die ouer seun later mediese behandeling ontvang het, het die jongste die polisie na hul huis geneem waar hy besef het hul televisie is gesteel. Die rowers het al die kaste, laaie en die yskas oopgelos voordat hulle gevlug het.

. Die identiteit van die skilder en sy vriendin is aan Weslander bekend, maar weens die feit dat hul selfone gesteel is, kon hulle nie voor druktyd in die hande gekry word nie.

Die jeugdiges se name kan ook nie bekendgemaak word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article