Asof die grusaamheid waarmee hy gesterf het nie reeds traumaties genoeg is vir die familie van ’n mynwerker wat in ’n oopgroefmyn naby Lutzville dood is nie, moet hulle nou boonop sukkel om antwoorde uit die betrokke partye te kry.

Verskeie vrae bly onbeantwoord oor die omstandighede waarin Bunid Recardo Miggel (38) Dinsdag 11 Julie dood is. Hy was ’n algemene steierwerker in diens van die RJ Southey-maatskappy, ’n kontrakteur wat steierwerk en sandblaasprojekte by Tronox Mineral Sands se oopgroef titaandioksiedmyn by Brand-se-baai behartig.

Nozuko Basson, Tronox-woordvoerder, het in ’n mediaverklaring gesê dat die voorval by die sekondêre konsentrasie-aanleg gebeur het, en dat daar niemand is wat gesien het wat gebeur het nie.

“Tronox het ’n ondersoekspan saamgestel uit bedryfs- en veiligheidskenners van reg oor die wêreld en die ondersoek word saam met verteenwoordigers van die Tronox Namakwa Sands Organised Labour-organisasie uitgevoer.”

James Jantjies, woordvoerder vir die Miggel- en Joseph-families, het vandeesweek aan Weslander gesê dat dit ’n pynlike ervaring vir die familie is.

“Dis ’n gruwelike ongeluk.”

  • Jantjies, wat in Junie ná veertien en ’n half jaar diens by die myn klaargemaak het, het verduidelik dat Miggel in ’n opvangput ( geval het, waarna sy oorskot deur die aanleg deur verskeie pompe in die stelsel opgemaal is.

“As ek net dink daaraan, dan breek dit my,” het hy gesê.

Dit beteken egter dat die familie boonop nie ’n liggaam het om te begrawe nie.

Dít bemoeilik ook die Lutzville-polisie se geregtelike doodsondersoek na die voorval geweldig, het kapt. Tania Helfrich, woord­voer­der vir die Weskus-polisie­distrik, gesê.

Van Miggel, wat in 2021 by die myn begin werk het, se oorskot is volgens Helfrich omstreeks 23:00 die aand onder in die myn gekry. Daar word vermoed dat hy 3 m ver van ’n steierstellasie geval het.

Jantjies het voorts gesê die familie probeer om hulle nie aan allerhande bewerings te steur nie, maar dat dit sonder reguit antwoorde moeilik is.

Hy het vertel dat Tronox-verteenwoordigers die familie Vrydag 22 Julie besoek en gesê het dat die ondersoeke tot Dinsdag sal duur.

Basson het Dinsdagmiddag gesê dat daar nog geen bygewerkte inligting oor die voorval is nie.

Jantjies het benadruk dat die familie graag om ’n tafel sou wou sit om die saak met die betrokke partye te bespreek, sodat hulle uitsluitsel kan kry. “Dis uiters pynlik vir ’n familie om nie te weet wat met hul kind gebeur het nie.”

Hyself het al in ’n opvangput geval en kan nie verstaan hoe Miggel dood is nie.

Dit is ook waarom die familie besluit het om op Donderdag 20 Julie ’n blommelegging vir Miggel by die myningang te hou. ’n Kruis is met ’n stapel klippe vasgepak, voordat kranse vir hom gelê is.

Kwessies van die veiligheid van RJ Southey-werkers is verlede jaar op die spits gedryf met ’n vergadering tussen van die maatskappy se bestuurslede en die gemeenskap.

Basson het hierdie vergadering, wat in 2022 plaasgevind het, bevestig en gesê ’n interne geskil tussen RJ Southey en hul werknemers het op daardie tydstip na die gemeenskap oorgespoel waarna die vergadering belê is. Sy het gesê dat Tronox as bemiddelaar op die vergadering met die gemeenskap opgetree het, maar dat daar ongelukkig nooit ’n oplossing bereik is nie.

Teen druktyd het nie RJ Southey of CSG Resourcing, wat Miggel se kontrak bestuur het, op Weslander se e-pos-navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article