’n Taxi het voorverlede week, Vrydag 22 Julie, deur die voorkant van Mason-begrafnisdienste in Kooitjieskloofstraat in Louwville gery. Die omstandighede van dié voorval word nog ondersoek.


’n Taxibestuurder wat beheer oor sy voertuig verloor en in Mason-begrafnisdienste se voordeur vasgery het, is maar een van vele voorvalle die afgelope jare.

Die klein sakesentrum aan die onderkant van ’n skerp afdraande het al deur die jare trekkers en busse ook sien verbykom, vertel Hilton Mason.

Hy het ook genoem dat daar al mense ernstig beseer is.

Hospitaalstraat loop met ’n skerp afdraande dood in dié sentrum in Kooitjieskloofstraat, wat ook ’n drankwinkel insluit. Dit is een van die besigste kruisings in Louwville soggens en in die middae ná werk. Die gemeenskap loop ook daardeur dorp toe en terug.

Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), het SBM jare gelede versperrings by die ingang na die sakesentrum se parkeergebied aangebring.

“Hierdie toegangspunt het egter verwarring en addisionele voertuigkonflikpunte geskep by die kruising van Kooitjieskloof- en Hospitaalstraat.”

Sy verduidelik die versperrings het ten doel gehad om die moontlike impak en skade aan voertuie wat teen die afdraande beheer verloor, te versag. SBM gaan moontlik weer ’n versperring oprig, maar vra die publiek se samewerking om dit nie dié keer te verwyder nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article