’n Inwoner van Malmesbury is die afgelope Donderdag na bewering byna in ’n vreedsame woonbuurt ontvoer. Volgens ’n kennisgewing op die buurt se nood-WhatsApp- groep, het die voorval op die hoek van De Kock- en Malanstraat in die Panorama-woonbuurt plaasgevind.
Volgens die verklaring van die 19-jarige slagoffer het sy honde by ’n ooggetuie oorgeneem om met hulle te gaan stap toe die voorval plaasgevind het.
Volgens die verklaring deur die plaaslike polisiekantoor het ’n onbekende man op daardie tydstip verby haar geloop sonder om op te kyk.
Die man het toe ná ’n geruime tyd omgedraai en terug in haar rigting gestap.
Terwyl die klaer deur die onbekende man genader is, het ’n blou/groen voertuig haar terselfdertyd genader en by haar stilgehou. Die bestuurder het die deur van die voertuig op daardie oomblik oopgemaak en haar probeer gryp, toe die onbekende man ook na hulle aangehardloop gekom het. ’n Ooggetuie, wat gesien het wat aan die gebeur is, het uit haar motor geklim en die slagoffer te hulp gesnel. Die bestuurder van die aanvallers se motor het weggery terwyl die voetganger ook weggehardloop het.
Beide die voetganger en die bestuurder van die motor is onbekend aan die slagoffer.
Die voertuig word as ’n outydse model beskryf wat vuil en blou/groen van kleur was. Die plaaslike veiligheidsdiens, Malmesbury Veiligheid, het inwoners op die kennisgewing gewaarsku dat Malmesbury nie vrygeskeld is van ernstige misdade soos ontvoering nie.
Die slagoffer het ’n klagte by die plaaslike polisiekantoor aangemeld. Die polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt, het bevestig dat die saak daar aangemeld is.
Die polisie stel ondersoek in of die voorval wel ’n poging tot ontvoering was.




