“Ek laat nie eens my kind kafee toe loop om die draai van my huis nie.”

Dit is die woorde van ’n ouer wat op Weslander se Facebookblad skryf na aanleiding van nóg ’n dorp se optog teen misdaad.

Inwoners van Vredenburg volg in die voetspore van Saldanhabaaiers wat onlangs ’n optog gehou het weens hul ongelukkigheid teen die onlangse moorde in die dorp.

’n Paar inskrywings voor die een oor die optog is ’n berig oor Marvin Meyer wat vermoedelik vir ’n selfoon vermoor is – ’n selfoon.

Hoe bekommerd was ’n vriend toe ek van haar huis die vyf minute na myne wou stap een middag, helder oordag. Is ek seker ek gaan stap? wou sy weet. Oudergewoonte stuur ek toe maar die WhatsApp-boodskap om te sê ek is veilig by die huis.

Ons almal het gewoond geraak om hierdie boodskappies te stuur en ook te ontvang, want enigiets kan gebeur.

Ons hoef net hier in die koerant te lees van die vele ongelukke en misdrywe wat daagliks in die platteland plaasvind.

Loop jy in ’n donker winkel tydens beurtkrag, sien jy dalk selfs hoe iemand langs jou iets in hul handsak of onder hul baadjie indruk, so algemeen het skelmstreke geword.

En tog is van die gewildste televisieprogramme en boeke wat ons lees, misdaad en moordraaisels. Ons volg die raaisels, lees true crime-verhale en kyk week ná week hoe die manne en vroue in blou misdade oplos. Ek glo dit is juis die oplossing wat hierdie stories van misdaad so aanloklik maak.

Gereeld gaan ek self op ’n reis saam met Hercule Poirot op die Nyl-rivier of die Orient Express. Agatha Christie se bekende speurder is een van my gunstelinge. En na Jessica Fletcher van Murder, She Wrote kan ek vir ure kyk, want hier in die wêreld van misdaad-verhale is daar altyd ’n rede vir die kwaaddoeners se dade, en in die meeste gevalle vang die lang arm van die gereg die skuldiges.

Mooi word verduidelik hoekom die wrede dade gepleeg word en ná 300 bladsye of 45 minute word hulle tronk toe gestuur. Raak dit alles “te veel”, kyk jy eenvoudig weg of skakel die televisie af.

Hier in ons alledaagse lewens werk dit egter nie só nie. Hier kan ons nie wegkyk nie, want dit is ons wat beroof word en ons geliefdes wat leed aangedoen word. Hier kan ondersoeke maande neem en hofverrigtinge nog langer.

In die misdaadstories is dade nie so sinneloos soos ’n jong man wat sy lewe vir ’n selfoon verloor nie.

Daarom is om af te skakel ook nie ’n werklike opsie nie.

Jaar ná jaar pleit skole by die gemeenskap en veral die inwoners wat om hulle woon, om die polisie te laat weet wanneer iemand dalk by die skool inbreek.

“Dit is julle kinders wat hier skoolgaan. Dit is julle kinders wat weens die inbrake ly,” het mnr. Boltney my laat skryf toe ek ná nóg ’n skool-inbraak berig gedoen het.

Gefrustreerd was hy altyd dat niemand glo iets gesien het nie.

Ons moet die strate invaar soos baie inwoners om skelms te laat verstaan ons sal hul dade nie duld nie en dan werk daarvan maak indien ons iets verkeerd sien.

Ons moet by die plaaslike polisiëringsforum-, buurtwag- of misdaadvoorkomings-WhatsApp-groepies aansluit.

Ons almal wil tog in ’n samelewing leef waar kinders alleen en sonder vrees om die draai kafee toe kan stap en waar niemand glo enigiemand se lewe is net ’n selfoon werd nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article