Ek weet nie van jou nie, maar die nood van my medemens gryp my aan die hart. Dit het nog altyd en ek glo dit sal altyd die geval wees. Hier verwys ek spesifiek na die nood wat met fisieke nood gepaardgaan.
Meer as ooit tevore gewaar ek dat dit deesdae vir my mede-Suid Afrikaners bitter moeilik is om kop bo water te hou. Dis nie eens meer ’n geheim om te sien hoe kospryse die hoogte in skiet nie. Alles word bloot net duurder. En vir diegene van ons wat bevoorreg is om ’n inkomste te verdien, kan dalkies nog daai paar ekstra kos-items bekostig en dit na hartelus in die winkeltrollie plaas. Vir ’n noemenswaardige aantal mede-landsgenote is hierdie ekstratjies in die kosmandjie egter nie ’n gegewe nie.
En hier praat ek nie slegs teoreties of hipoteties nie. Nee, ek het dit al met my eie oë gesien en dit al aan my eie bas gevoel. Ons mense kry deesdae regtig swaar om te oorleef. Die redes daarvoor is legio en al oorbekend aan ons almal. Elke maand se kosvoorraad word deesdae haarfyn beplan. Ekstra moeite word ingespan om daai spesiale aanbiedinge by ’n paar winkels te kry. Slegs die broodnodige word gekoop, want vir luukshede is daar deesdae bloot net nie meer die geld om dit te kan bekostig nie.
Ek het al gesien hoe mense by die betaalpunt van ’n supermark kom en verplig word om daai ekstra items uit die mandjie te haal, want die sente klop nie. En as die kos klaar gekoop is moet die water en ligte ook nog betaal word. Die trein- of taxi-geld vir die nuwe maand moet eenkant gesit word. Dan moet die begrafnispolis gediens word, skuldjies wat aangegaan is in die ou maand roep vir aandag en iewers moet iets oorbly vir die kinders se skoolgeld en ander behoeftes. Ons praat maar nie eens van klere koop of gaan uiteet nie. Nee wat, ag jou gelukkig as jy daai soort aktiwiteit een of dalk twee keer ’n jaar kan bekostig.
Ag jouself baie gelukkig of geseënd as bogenoemde nie deel is van jou lysie bekommernisse nie. Die feit van die saak is dat miljoene van ons mense ekonomies swaar trek. Hierdie oorbekende scenario in ons Suid-Afrikaanse landskap het my genoop om ’n kritiese vraag te stel – wat kan ek (of ons) doen om die nood van ander te help verlig? Ek meen maar, hier is ek bevoorreg om ten minste ’n inkomste te genereer; soveel so dat genoeg oorbly om met ander te kan deel. Kan ek elke eerste of tweede mens in nood van hulp wees? Gewis nie, maar daar is iets wat ek vir iemand kan doen of beteken.
Glo my, dit behoort nie baie lank te neem om agter te kom hoe groot die werklike nood deesdae is nie. Gaan loer maar so ’n bietjie in by ’n paar familielede. Party gee dalk voor alles is punt in die wind. Dis nie lank nie en jy kom agter dat die tekens van die tye ook daar ’n paar rowwe draaie gemaak het.
Met die nood wat so groot is, is dit natuurlik ook nodig om te bid vir wysheid om te weet waar en hoe ek en jy kan help om die nood te help verlig.
Daar is diegene onder ons wat elke uitdagende situasie wil of kan manipuleer tot eie voordeel; ook diegene wat verseg om ’n vinger te verroer om iets aan die nood te doen. En diesulkes is blakend gesond en in staat om vir nog ’n paar dekades te kan werk, maar sit en wag eerder vir ’n toelae wat nog ’n keer moet uitbetaal.
Dis egter daai groep mense onder ons – ons bejaardes – wat my regtig aan die hart gryp. Ook daai groep mense wat dinge deur egte swaarkry- omstandighede bloot net moeilik het. Dis vir hierdie mense wat ek nie sal skroom om my eie hand diep in die sak te steek en te help nie. Ek het so paar weke gelede na ’n televisieprogram gekyk waar die hoof van ’n bekende Suid-Afrikaanse noodlenigingsorganisasie hierdie treffende waarheid en wysheid gedeel het – as ons almal net iewers in ons eie gemeenskappe ’n hand kan verleen, dan sal ons hierdie land van ons op die wenpad kan sit. Dit het my so geïnspireer dat ek daar en dan myself opnuut uitgedaag het om nog meer vir my medemenstot seën te wees. Ek wil of kan myself nie blind hou vir die nood van my medemens nie. Ek weier om net vir myself te lewe, want dit kan dalk net gebeur dat ek ook iewers op hierdie lewenspad (soos al soveel kere in die verlede) my medemens nodig kry.
Mag die nood van ander jou ook uitdaag om tot aksie oor te gaan. Iemand het eenkeer gesê ’n toe hand kan nie ontvang nie, maar ’n oop hand wel. Mag ons harte en hande altyd oop bly vir ander, want so ontsluit ons nog meer seëninge vir onsself en ander.





