Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) het laat Donderdag (10 Augustus) omstreeks 21:00 aangekondig die taxi-staking, wat ’n week gelede begin het, is amptelik afgelas. Santaco het sy medelye teenoor families wat geliefdes as gevolg van die gewelddadige staking verloor het, of diegene op wie die staking ’n negatiewe invloed gehad het, in ’n persverklaring uitgespreek.
Daarin is gesê die Wes-Kaapse regering sal taxi’s wat onregmatig deur die Stad Kaapstad geskut is, binne twee weke teruggee.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Vrydagoggend (11 Augustus) by ’n perskonferensie bevestig die staking is afgelas en bygevoeg die regering onderneem om indringend na die taxibedryf se kwessies te kyk om oplossings te vind.




