Jukskei word al langer as 35 jaar in Langebaan gespeel.
Jukskei is ’n eg Suid-Afrikaanse sport, maar word ook in ander lande gespeel. Die sport behels twee skeie per speler en word op ’n baan in die buitelug gespeel. ’n Speler gooi die skeie een vir een na ’n pen wat in die sand geplaas word. Die idee is om die pen met die skeie om te gooi.
Vir lank is plaaslik net onder mekaar geoefen en aan die begin van 2021 is ’n klub onder die vaandel van die Weskus-distrik geskep. Die klub het klein begin en vandag is die klub sowat 40 lede sterk.
Spelers is in sosiale en liga-spelers verdeel.
Nege jukskeispelers van Langebaan gaan die Weskus-distrik vanjaar in Kroonstad by die meesterstoernooi verteenwoordig. Die kompetisie vir diegene van 50 jaar en ouer vind jaarliks plaas. Jukskei word onder verskillende provinsies in verskeie afdelings oor vyf dae gespeel.
Die jukskeiseisoen strek van September tot Maart en vir die res van die jaar skaaf klublede hul vaardighede met speeldae en oefeninge. Die klub hou ook interne kompetisies en sosiale byeenkomste deur die jaar.
Die Langebaan-jukskeifamilie nooi almal uit om by die bane in Oostewalstraat, met die ingang oorkant PostNet, te kom inloer.
Jukskei is dalk dié sport wat net mooi nommerpas is vir jou!
Klublede speel Saterdae van 09:30 af en Woensdae van 14:00 af.
Almal – oud en jonk – is welkom.
. Kontak Jaco Basson by 079 167 9646 vir meer inligting of soek Langebaan-jukskei op Facebook.




