Nog ’n Vrouedag gevier; nog ’n Vrouemaand om al die waarhede en mooihede wat aan ons vroue gekoppel kan word, aan die groot klok te hang. Met reg so, want daar ís oorgenoeg lof wat ons aan ons vroue kan toeswaai.

“Ek is nie getroud nie. Ek het nie kinders nie. My ouers is al jare gelede oorlede. My suster het my grootgemaak. Wat baie mense nie weet nie, is dat ek baie siek is. Dit het my in ’n stadium baie depressief gemaak, maar ek moes myself net weer optel en die wêreld vierkantig in die oë staar. Ek is bevoorreg om ’n werk te kan hê, en glo my, ek is elke dag by my werk solank ek fisiek daartoe in staat is.

Daar is so baie jong meisies in my gemeenskap wat die maklike uitweg kies en saam met die stroom gaan. Dit maak my so hartseer. Ek voel trots op myself dat ek vir myself kan sorg. Ek skuld niemand nie en is in die posisie om ander wat swaarder as ek kry by te staan met die min wat ek verdien.”

Ek ken hierdie jong vrou al die afgelope klompie jare. Sy is na my mening een van die menige redes waarom ons nog jaarliks Vrouemaand met waardigheid kan vier. Sy is vir my die toonbeeld van ’n vegter; iemand wat nie teen haar omstandighede vaskyk nie, maar juis haar omstandighede as impetus inspan om ’n betekenisvolle bestaan te voer. Ek kan by haar naam nog soveel ander vroue se name voeg wat met hul hierwees so ’n positiewe impak maak dat ek hoop het vir ons land.

En hoop is juis een van die kommoditeite wat ons deesdae so broodnodig het in ons land. Neem nou maar die afgelope tyd toe dit vir die soveelste keer gevoel het asof daar op nasionale vlak net die een golf van negatiwiteit ná die ander op ’n mens wil neersak – negatiwiteit as gevolg van die een of ander ramp, krisis, politieke verleentheid, armoede, jeugwerkloosheid . . . noem maar op. Daai kere as jy in jou gemoed wil vra wanneer die wiel dan net weer ’n slag wil positief draai vir ons almal; dat ons net vir ’n oomblik in tyd kan trots voel om weer Suid-Afrikaans te wees.

Dan kom verras ons vroue ons vir die soveelste keer. En as dit aan die sportfront gebeur, is dit gewis ’n aangename sowel as ’n broodnodige verrassing. Ons vroue kom doen dit vir ons in die internasionale netbal- sowel as sokker-arena. Ja, ons het nou wel nie daardie wennerstrofee omhoog gehou nie, maar wraggies, hulle het ons so trots gemaak. Hulle het aan ons almal daardie positiewe inspuiting kom gee wat die nasionale psige op daardie tydstip so nodig gehad het. Ons vroue het ons opnuut kom herinner aan die louter waarheid dat daar krag in saamstaan is; dat ingee of opgee nie ’n opsie is nie.

Ek wil my verstout om te sê hierdie afgelope twee skouspele (sokker en netbal) was ook geskiedkundig van aard. Vir die eerste keer in die geskiedenis van vrouesport op Suid-Afrikaanse bodem het ons almal ’n kykie gekry van hoe mooi en blink die toekoms vir ons jonger vrouegeslag lyk om die leer van sukses op sportgebied te klim. Hierdie vrouevegters van ons het opnuut aan hul manlike eweknieë kom bewys dat elkeen van hulle haar sout werd is – op en weg van die sportveld af.

Wie sal dan nou ’n borgskap vir die toekoms wil weier as ons vroue sulke spogvertonings kon lewer?

Natuurlik, glo ek, kan ons nie wag dat die volgende wêreldbekers weer aangebied moet word nie. Nou weet ons dat ons vroue nie sal rus voordat daai bekers op eie bodem skitter nie. Wat ’n vooruitsig! En intussen kry ons die jong vroue van Eersterust, Khayamandi, Lotusrivier, Hanover Park, Kimberley en Limpopo gereed om hul waardige plekke in te neem waar hul dapper vroulike voorgangers die aflosstok sal oorhandig. En as ons mammas of jong vroue met moontlik afhanklikes by die huis hul ding op die sportveld doen, kan die kinders maar rustig slaap, want ouma of antie is daar om die las ligter te maak; seker te maak al die nodige word gedoen om te verseker dat die kind op skool se opvoeding rustig en ongesteurd voortgaan; dat almal wat deel van die kerngesin is, van ’n bord warm kos voorsien word en gelukkig is. Wat meer wil jy dan nou hê of vra?

Wel, ek glo nog meer kan gedoen word om elke greintjie erkenning wat ons vroue toekom, aan hulle te bied, want hulle verdien dit. En al is dit om hulle regverdig te vergoed vir hul bydrae op die sportveld of vir hul onbaatsugtige diens en liefdestaak by die huis . . . ons is dit aan hulle verskuldig om daardie blyk van waardering mildelik toe te swaai.

Ek het hoop vir hierdie mooi land van ons, want ons vroue is ’n integrale deel daarvan. Vroue, ons is baie lief vir julle en waardeer alles wat julle vir ons doen en beteken. Ons salueer julle!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article