Koeberg-kragsentrale en sy belangrikheid was die fokus van die digitalemediakonferensie oor elektrisiteit verlede Donderdag.
Volgens Keith Featherstone, hoof van kernkrag by Eskom, sal eenheid een van die kragsentrale teen 3 November weer elektrisiteit aan die nasionale kragnetwerk bied.
“Die belangrikheid van Koeberg vir die Wes-Kaap het aansienlik toegeneem. Sonder Koeberg is dit nie moontlik vir transmissielyne om werklik in die Wes-Kaap se vraag op hul eie te voorsien nie. Ons doel is altyd om hoër betroubaarheid van die aanleg te verseker – wat ons in staat is om te bereik, asook om die kans te verminder dat albei eenhede gelyktydig afgeskakel word,” sê Featherstone.
Sodra eenheid een, wat in Desember vir instandhoudingswerk afgeskakel is, weer aanlyn is, sal eenheid twee ’n paar dae later afgeskakel word sodat die drie stoomopwekkers vervang kan word.
Featherstone sê danksy deurlopende werk aan die kragaanleg en die vervanging van die reaktorkop van eenheid twee en die waterhervullingstenks, het Eskom aansoek gedoen om die kragaanleg vir nog 20 jaar aan die gang te hou.
Instandhoudingswerk vir eenheid een sal uiteindelik 11 maande duur, maar Featherstone sê met dié werk byna agter die rug is vele lesse geleer.
“Ons was te optimisties oor wat ons gedink het ons kon doen [binne die tydperk] en indien ons na ’n meer realistiese logistieke plan gekyk het, sou ons beslis ’n langer periode geskeduleer het vir die werk,” het hy gebieg.
Featherstone het ook verduidelik in die 39 jaar van bedrywighede is die kragstasie verander en opgedateer met internasionale gebruike. Hy meen Suid-Afrika het die vaardighede en kennis om kernkragkapasiteit uit te brei om uiteindelik as ’n “skoon, stabiele kragbron” vir die land te dien.
Alan Winde, Wes-Kaapse premier en aanbieder van die konferensie, sê dit is belangrik vir die provinsie om te fokus op krag-veerkragtigheid, waarvan Koeberg deel is, om die provinsie se ekonomiese groei te verseker.




