Vier stappers neem tans deel aan ’n “Camino”-staptog van Piketberg tot in Springbok.
Die staptog oor 11 dae dek altesaam 425 km. Die doel van die staptog is die bewusmaking van positiewe vaderskap en om die bestaande vaderskapsprogramme van Mfesane te versterk en uit te brei.
Die stapspan sluit in Abraham Smith (Vredenburg), Hendrien van Zyl (Langebaan), Julie Williams (Kaapstad) en Caesar Sauls (Kaapstad).
Van Zyl sê elke dag is regtig ’n belewenis en die “Camino”-vriende het onbeskryflike mooi harte vol omgee. Sy voel bevoorreg om lid van die span te wees.
Die stappers se liefde vir hul medemens en die strewe om deurgaans ’n verskil in ander se lewe teweeg te bring, is hartroerend.
Die onderneming tussen Mfesane en die “Camino”-stappers is dat enige geld wat ingevorder word, aangewend sal word om die voortbestaan en uitbreiding van positiewe vaderskapsprogramme te verseker.
Die stapspan self sal nie enige geld in ontvangs neem nie, maar wel Mfesane, wat die ingesamelde geld ten bate van positiewe vaderskap sal administreer.
In die lig van laasgenoemde oogmerk nooi die stappers enige individu, instansie of onderneming om hul staptog te borg. Die vriendelike pleidooi aan enige weldoener is om die staptog te borg teen ’n minimum van R1 per kilometer wat die stapspan aflê.. Om jou skenking te stuur en meer oor die program uit te vind, kontak Yolandi Afrika van Mfesane by 073 616 2872.





