Tertuis Simmers (middel), die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, spreek die gehoor toe terwyl minister Ricardo Mackenzie (links), die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, en die raadslid Johan Moolman (regs) luister.Foto: Ntobeko Mbingeleli


Los maar die nuwe peperduur brug oor die Bergrivier – “kry net die trokke uit ons dorp”.

Dít was Woensdagaand (30 Augustus) onomwonde die inwoners van Velddrif en Dwarskersbos se mening by ’n stadsaalvergadering met afgevaardigdes van die provinsiale regering.

Hoewel Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, en Tertuis Simmers, die minister van infrastruktuur, met daadwerklike korttermynplanne en medium tot langtermyn-oplossings vorendag gekom het, is die gemeenskap ná dekades van sukkel en kla oor die groot vragmotorprobleem deur hul dorpe maar versigtig optimisties.

By die vergadering is bekendgemaak dat ’n nuwe brug van R160 miljoen in die plek van die Carinusbrug gebou gaan word.

Simmers het inwoners verseker hulle gaan deel van die proses wees met ’n deeglike openbaredeelnameproses oor hoe die nuwe brug gaan lyk. Hy het ook tydens die onthulling gesê die bouwerk van die vervanging van die Carinusbrug sal deel wees van die projek om die R27 en R399 op te gradeer.

Inwoners het gemengde gevoelens oor die aankondiging van ’n nuwe brug, want hulle meen ’n groot, nuwe brug gaan net nog meer vragmotors lok.

Die Carinusbrug, wat ouer as 70 jaar is, is nooit vir vragmotorverkeer gebou nie. Daarom word gebruikers van die brug gereeld uitgedaag met vragmotors wat albei bane op die brug moet gebruik om daarop in te draai.

Inwoners het ook die aansluiting reg by die brug, waar ’n mens Velddrif inkom, opgehaal. Dié is volgens hulle een van die mees verwarrende verkeersaansluitings in die Weskus en padgebruikers is nooit seker wie mag wanneer ry nie, wat dit ’n uiters onveilige punt vir inwoners maak.

Die swaarvoertuigverkeer vererger die hele kwessie.

Een van die voorstelle van die ministers is dat twee van die provinsiale probleempaaie in die dorp waarlangs die vragmotors ry om die Klawer-weegbrug te vermy, na munisipale paaie gedeproklameer moet word. Dit sal teweegbring dat die Bergrivier-munisipaliteit self sal kan besluit oor die reëls vir die grootte en gewig van vragmotors wat dié paaie gebruik.

Mackenzie skryf die toename in verkeersvolumes toe aan die groeiende kommersiële sektor in die streek.

Die onderskeie verkeersafdelings het reeds Woensdagnag begin met ’n daadwerklike optrede teen oorlaaide vragmotors en vragmotorbestuurders wat verkeersreëls soos die spoedbeperking oorskry.

“Ons verkeerspanne het op 31 Augustus spesiale verkeerswetstoepassingsoptredes by sleutel- geïdentifiseerde plekke begin. Ons is die enigste provinsie in die land met ’n 24-uur-teenwoordigheid van verkeerswetstoepassing, dus sal hierdie spesiale optredes deurlopend plaasvind.

“Die gemeenskappe kan gerus wees dat vragmotoroperateurs, wat die verkeerswette verontagsaam, met die lang arm van die reg te doen sal kry. Ons doen ook ’n beroep op die korporatiewe sektor om leierskap met hul vragbedrywighede te toon en te verseker vragmotors word nie oorlaai nie en bestuurders jaag nie of gebruik nie roetes wat nie die gewig van hul vrag kan dra nie. Dit is van kritieke belang vir die verbetering van padveiligheid en ’n verligting op klein dorpies wat die las van onverantwoordelike bedrywighede dra.”

Mackenzie het alle inwoners egter gewaarsku die verhoogde wetstoepassing sal op alle inwoners van toepassing wees en video’s en foto’s van oortreders sal op sosiale media geplaas word.

Inwoners het egter reeds die volgende dag op sosiale media berig hulle kon gedurende die nag ’n reuseverskil hoor omdat bykans geen vragmotors deur die dorp gejaag het nie.

Die raadslid Johan Moolman, ook die plaaslike apteker, het vooraf verduidelik die probleem kom al jare aan. “’n Week het nog nie verbygegaan sonder dat iemand oor die vragmotors by my gekla het nie. Vragmotors deur ons dorp het met rasse skrede toegeneem. Ons infrastruktuur word vertrap en ons paaie en sypaadjies [word] verniel.”

Hy het ook verwys na vragmotorbestuurders wat hul vragmotors parkeer net waar hulle wil – selfs op sypaadjies voor klein sakeondernemings, wat dan toegang tot die ondernemings beperk. Hy het ook gewys op die algemene wetteloosheid onder vragmotorbestuurders wat deur die dorp jaag, U-draaie maak net waar hulle wil en mekaar teen hoë spoed in die middel van die dorp verbysteek.

Hy het benadruk ’n persepsie heers dat die vragmotors oorlaai is en daarom die hoofpaaie vermy.

Die afgelope jare is al baie debat in die raad en die munisipaliteit oor die probleem, wat ook die pad tussen Piketberg en Velddrif raak.

Of die genoemde oplossings verligting vir inwoners van Velddrif en Dwarskersbos gaan bring, sal net die tyd kan leer, maar inwoners het uit darem met ’n skeutjie hoop die vergadering gestap.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article