Hopefield was Saterdag in rep en roer danksy die gewilde Fynbosskou wat daar aangebied is.
Die effense reënweer het nie die besoekers weggehou nie en talle stalletjies met alles van koffie tot heuningseep om feesgangers warm te hou, is aangebied. Die eerste fynbosskou is in 1989 onder leiding van Fiona Kotze, Kobie Truter, wat vir jare die herbarium behartig het, asook Elna Slabber, Eleanor Melck, Philbert Melck en nog plaaslike boere, aangebied.
Die fynbosuitstallings was oudergewoonte die groot trekpleister met dele van die Sand-, Riet- en Renosterveld wat onder meer uitgebeeld is met alles van fynbos tot spinnekoppe. Feesgangers kon natuurlik hul eie fynbos aanskaf, asook vars gebakte brode, handgemaakte items insluitend plaaslike kunswerke en verskeie heuningprodukte, danksy Simply Bee.
Die kleinspan is onder meer by die pretpark, speelpark en troeteldier-dieretuin besig gehou. Yslike trekkers was natuurlik ook te sien en ’n trekker-en-wa-rit is ook aangebied.
Oud en jonk het hulle ook aan die veteraanmotors wat te sien was, verkyk.





