Pieter Loubser, die hoofbeoordelaar, Reg Morgan, en Dawid Rooifontein.Foto:


Die St. Helenabaaiers Pieter Loubser en Dawid Rooifontein is onlangs by die Wes-Kaapse Byebedryfsvere­niging se Nampo-heuningkompetisie in Bredasdorp vereer.

Die beoordelaars was baie beïndruk met die 125 inskrywings wat ontvang is, waarvan Loubser en Rooifontein 20 inskrywings ingedien het. Agtien van hul inskrywings het eerste, tweede en derde plekke behaal. Loubser het die prys ontvang vir die hoogste gesamentlike telling met sy Rooibosteeheuning-inskrywing, wat 100% behaal het. Rooifontein het ook met die prys vir beste opkomende byeboer weggestap.

Loubser en Rooifontein werk al die afgelope drie en ’n half jaar saam, waar Loubser die jonger Rooifontein as mentor met die kennis wat hy deur 28 jaar opgebou het, onder sy vlerk geneem het. Volgens Rooifontein is hy baie bly oor die prestasie wat hulle behaal het. “Ek het nog nooit so goed gevoel daaroor soos ek nou voel nie; dit was die beste geleentheid van my lewe. Om saam met Loubser te werk, beteken baie vir my. Ek leer baie by hom en hy lei my altyd op die regte pad; daarom is dit vir my ’n voorreg om saam met hom te werk,” sê hy. Om ’n byeboer te wees, verg baie, vertel Rooifontein. “Ek leer elke dag hoe om met bye te werk. Dit is nie maklik nie, maar ek probeer nog altyd my beste.”

Loubser sê hul deelname aan die kompetisie en dit wat hulle onder die 125 inskrywings behaal het, is groot en baie spesiaal. “Veral vir Rooifontein, omdat hy nog jonk is en kan ervaar wat dit is om 100% ’n byeboer te wees. “Hy is een van die hoofkomponente waarom ons heuninghuis draai en het reeds baie van al die verskillende afdelings bemeester. Hy is lief vir die bye en om met hulle te werk, en ek gun hom elke toekenning en weet hy is baie trots,” sê Loubser.

Hy verduidelik om ’n suksesvolle byeboer te wees, moet jy die natuur ken en volg, en die plante ken. “Byeboerdery is ’n passie en deel van jou gene; jy sit dag en nag alles in.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article