Die dinamiese duo Lizette Cleophas en René Jardine.Foto: Tanya Gomez Photography


Met byna geen kapitaal nie, maar ’n visie en ’n droom wat albei se harte warm laat klop, is René Jardine en Lizette Cleophas vasbeslote om nie net ’n sukses van hul nuwe sakeonderneming te maak nie, maar ook die Weskus, waarvoor hulle albei lief is, as ’n geleent­heids­bestemming te bemark.

René het in Januarie vanjaar haar werk in die korporatiewe wêreld vaarwel geroep. Terwyl sy by die huis gesit het, het sy begin dink oor waar haar vaardighede, passie en vermoëns lê, maar ook watter dienste in die Weskus benodig word. Só het die idee vir ’n bruid-ekspo ontstaan. Met die konsep daar moes sy die sakeplan verfyn en ’n naam uitdink vir die nuwe sakeonderneming. Kort voor lank is RayV Events gebore – ’n woordspeling tussen haar ontslape pa Raymond Vincent se naam en die woord “rave” in Engels, want, sê sy, “mense moet rave oor die dienste wat ons bied”.

Dit is op hierdie tydstip dat René vir Lizette genader het.

Lizette, wat ’n militêre agtergrond sowel as korporatief het en net soos René die druk en eise van korporatief verstaan, was die afgelope vyf jaar ’n huisvrou en het op ’n plek in haar lewe gekom waar die kinders nou groot is en sy reg was vir ’n nuwe uitdaging.

Die twee vroue is deur hul mans aan mekaar bekend gestel en het dadelik gekliek.

“Daar was net van die begin af ’n konneksie en verstandhouding. Ons is ook albei Ramme (Aries); ons praat net dieselfde taal,” vertel René.

René het haar idee vir ’n bruid-ekspo met Lizette gedeel en sy het dadelik in die idee ingekoop.

“Sy bring ’n magdom ervaring en kennis, en ek is absoluut mal oor haar werksetiek.

“Ek bly sê dis hoekom ek [haar] aan die begin genader het, want ek besef dat dit so ’n groot taak is. Ek kan dit moontlik alleen doen, maar laat ek realisties wees en sê ek wil nie, maar wie anders kry ek aan boord, en sy het by my opgekom. Ek was so verlig toe sy ingestem het.”

Drie maande later is Lizette ’n sakevennoot en mede-direkteur van RayV Events en is die twee hard aan die beplan aan die Weskus-bruid-ekspo, wat Saterdag 24 en Sondag 25 Februarie 2024 by die Athena-saal by Club Mykonos in Langebaan plaasvind.

Die bruid-ekspo is gemik op elke aspek van ’n troue waaraan voornemende bruidspare moontlik kan dink – die rok, grimering, ’n prokureur vir die huweliksvoorwaardekontrak, die troukoek, spysenier, fotograaf, videograaf, skryfbehoeftes en skoene, vertel Lizette, “en natuurlik jou lingerie vir die wittebrood”, voeg René tong-in-die-kies by.

Maar, verseker Lizette, bruidegomme sal nie uitgesluit word nie en daarom sal die ekspo hulle ook die geleentheid bied om saam te kom en te kyk waarvan hulle hou. “Hulle kan dus so betrokke wees by die troureëlings as wat hulle wil.

“Dit is hier waar ons dié tipe uitstallers nou smeek om asseblief op te teken, veral as jy in die Weskus is. As jy nie jou besigheid hier ten toon gaan stel nie, gaan jy iets groots mis. Die bruide gaan instroom. Weskus het destination venues. Daarom daag ons al die venues uit – kom ons wys die mense daar buite wat is hier in die Weskus. Hier is juwele van plekke. Kom ons trek saam; kom ons probeer nie dinge op ons eie doen nie,” moedig Lizette aan.

“Enigiets wat met ’n troue te doen het – bring jul goed en kom. Ons vra ook borge om betrokke te raak,” nooi die dinamiese duo.

Hulle het plek vir 50 uitstallers.

Volgens René is die doelwit juis om diensverskaffers en verbruikers in een plek bymekaar te bring. “Weskussers moet altyd Kaapstad toe gaan, maar hoekom? Ons het al die hulpbronne hier. Dit is ’n wonderlike netwerk- en bemarkingsgeleentheid; ’n geleentheid vir sakeondernemings om net weer bande met hul kliënte te bou.”

Hoewel hulle tans hul hande vol het met die beplanning van die bruid-ekspo, gryp hulle tussendeur ook enige geleentheid aan om hul sakeonderneming te laat groei en op dié manier voete na die Weskus te lok. Dit sluit onder meer ook ’n 1st Sundays Bubbly & Jazz op 1 Oktober by die Langebaan Boutique Hotel and Spa in, om – soos hulle dit spottenderwys stel – “die kostes van ons bankrekening te dek” terwyl hulle hul groter visie tot vervulling bring. Hulle reël ook korporatiewe byeenkomste, soos jaareindes, spanbou en vele meer.

Oor die pad vorentoe is hulle optimisties: “Geleenthede slaan ons letterlik in die gesig,” vertel hulle opgewonde, en hoewel hulle nog nie te veel oor hul ander planne wil verklap nie, is hulle dit eens dat dit alles in ooreenstemming is met hul objektief om plaaslik te bemark.

Met hul mans wat bankvas agter hulle staan, hul aansteeklike energie en die ondersteuning wat hulle mekaar bied, is hulle positief oor die toekoms, sê Lizette. . Die Weskus-bruid-ekspo vind op 24 en 25 Februarie 2024 by Club Mykonos plaas. Belangstellendes en voornemende uitstallers kan RayV Events se webtuiste besoek by www.rayvevents .co.za vir nog inligting en om te registreer. Vir meer oor die dienste wat hulle bied, kontak hulle ook gerus per e-pos by info@rayvevents.co.za of per WhatsApp by 076 820 5082.. 1st Sundays Bubbles & Jazz vind plaas op 1 Oktober vanaf 11:00 by die Langebaan Boutique Hotel and Spa by Turffonteinweg 2, Long Acres Country Estate, Langebaan. Kaartjies kos R349 elk en is beskikbaar by www.web­tic­kets.co.za. Besoek hul web­tuiste, www.rayvevents.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article