Minister Ricardo Mackenzie gesels met ’n lid van die publiek by ’n padblokkade.Foto: Rebecca Campbell


Die Wes-Kaapse minister van mobiliteit wil ook die Kaapse Kamer van Koophandel betrek by die logistiek om die vragmobiliteitskrisis van die Wes-Kaap, wat deels aanleiding gee tot meer swaarvoertuigverkeer deur klein Weskus-dorpies soos Velddrif en Dwarskersbos, aan te pak.

Dit gee ook aanleiding tot hoë gemoedere onder geïrriteerde inwoners van dié dorpe, wat nie kan slaap nie en wie se daaglikse bestaan negatief beïnvloed word deur vragmotors wat verkeersreëls oortree en paaie, wat nie daarvoor gebou is nie, stukkend ry.

Vir Ricardo Mackenzie, mobiliteitsminister van die Wes-Kaap, het ’n onlangse toer deur die provinsie, wat ’n gemeenskapsvergadering in die Velddrif-stadsaal ingesluit het, spesifieke kwessies met vragbedrywighede en groot vragmotors in die gebied uitgelig. Hy is dankbaar teenoor die inwoners wat hul sê gesê het, want dit gaan help om “die handhawing op die paaie te verbeter”.

Tydens ’n twee week lange optrede – tussen 31 Augustus en 11 September – om swaarvragmotorverkeer in spesifiek Velddrif en Dwarskersbos te reguleer, is altesaam 611 swaarmotorvoertuie voorgekeer en nagegaan.

Die Wes-Kaapse provinsiale verkeerswetstoepassing het saam met ander wetstoepassingsagentskappe gedurende dié tydperk gewerk om in tien afsonderlike optredes die sifting van swaarmotorvoertuie te prioritiseer.

“Ons provinsiale verkeersbeamptes ondersteun steeds munisipale verkeerswetstoepassing in die gebied om te monitor dat swaarvoertuie alle pad- en verkeerswette nakom,” het Mackenzie benadruk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article