Hoewel die stormweer die afgelope naweek heelwat skade aangerig het, het die Weskus redelik lig daarvan afgekom met enkele padsluitings en beskadigde infrastruktuur wat plek-plek aangemeld is.
Stormsterkte wind en reënweer het die Wes-Kaap Saterdag getref. Paaie in die provinsie is oorstroom en in party gevalle is brûe weggespoel.
“Ons vroeëwaarskuwingstelsels het gewis gehelp, maar niks kan ons werklik vir ’n een-in-15-jaar-storm voorberei nie. Vorentoe sal klimaatsverandering en natuurrampe gewis ’n rol speel in toekomstige infrastruktuurbeplanning,” meen die provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning in die Wes-Kaap, Anton Bredell.
Bredell was deel van die verskeie provinsiale rolspelers wat Dinsdag terugvoer gegee het oor die uitwerking van die storm op die provinsie.
In die Weskus was die DR2161 (Versveldpas) tussen Piketberg en Piket-Bo-Berg gesluit. Die DR1161 (Moorreesburg/Gouda-pad) was toe weens ’n boom wat oor die pad beland het asook die Uitkyk-pas waar weerskade aangemeld is.
Mense was ook tydelik by die Sanddrif-kampterrein, op die DR1487 (Dwarsrivier-plaas) vasgekeer weens die skade van die gru-weer.
Die agterpad tussen Algeria en Clanwilliam het ook deurgeloop en was Dinsdagmiddag nog gesluit.
Die ergste skade in die provinsie is onder meer in die Overberg en Tuinroete aangemeld.
In Saldanhabaai was daar egter goeie nuus Dinsdag toe die plaaslike munisipaliteit laat weet het as gevolg van heelwat skade en herstelwerk wat aan Eskom-infrastruktuur in beide die Wes- en Oos-Kaap gedoen moet word, sal die ligte aanbly. Hoe lank dié vergunning sal geld, word deur Eskom bepaal.
Skade aan wonings, bome wat ontwortel is en rotse wat geval het, is by die Weskus-distrik se rampbestuursentrum aangemeld, het die hoof, Franquin Petersen, Maandag bevestig. Dit het ingesluit oorstromings van die laaggeleë brug in Elandskloof sowel as die laagwaterbrug na Algeria, kort ná die afdraai van die N7.
Volgens Tereza Burger, ’n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, is beskadigde infrastruktuur by die munisipaliteit se Kalkrug-depot in Saldanha aangemeld, waar ruite gebreek het, asook by die munisipale kantoorgebou in Diazville, waar ’n omheining omgeval het.
“Daar is gebiede waar vloedwater voorgekom het as gevolg van swaar reën, maar die munisipaliteit se gemeenskap- en bedryfsdienste- direktoraat se bystand-personeel het voorvalle flink hanteer soos aangemeld, en kon die water-oorvloed met spesiale toerusting opsuig,” het Burger verduidelik.
Oorstromings het veral in Saldanha voorgekom met Middelposrylaan, Karpstraat en Cottager Park wat geraak is. “Voorbereiding is vroegtydig gedoen en voorkomende instandhouding word ook gereeld aan die stormwaternetwerk gedoen. Hierdie maatreëls is baie belangrik om omstandighede tydens swaar reënval en nadelige weersomstandighede te bestuur,” het Burger gesê.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se vooruitsigte is die stormweer hier eers verby met slegs ’n gedeeltelik bewolkte naweek wat voorspel word.




