Om haar eie CD uit te reik is ’n droom wat vir Maxine Davids uiteindelik ’n werklikheid geword het.
Dié 22-jarige van Hopland in Saldanha stel haar eerste gospel-CD op Saterdag 28 Oktober bekend. Wat dit meer spesiaal maak, is die feit dat Davids haar 23ste verjaarsdag ook op die dag vier.
Maxine vertel dat sy tydens die grendeltydperk liedjies begin skryf het. Soos met baie van ons was dit vir haar die geleentheid om meer tyd op haar eie deur te bring en op haar eie tyd kreatief te word met lirieke. “Ek het altyd die begeerte gehad om eendag my eie gospel-CD bekend te stel, min het ek geweet dit gaan op die ouderdom van 23 gebeur. Met die groei van my geestelike lewe het ek besef dat alles moontlik is vir dié wat glo. Ek het al my voornemens uitgesit en met die Here gedeel en Hy het dit moontlik gemaak,” sê Maxine.
Die soort musiek wat luisteraars sal hoor, is natuurlik gospel, ’n paar koortjies, en liedere. Drie van die liedere het Maxine self geskryf en die ander twee is deur haar ouma en broer geskryf.
Hoewel Maxine ’n groot liefde vir al die liedjies op die CD het, bieg sy dat die lied “Reinig my, o Heer” vir haar ’n spesiale betekenis inhou. Die lied was een van Maxine se eerste liedjies wat sy sowat twee jaar gelede bekend gestel het. Sy vertel dat die lied haar deur ’n seisoen in haar lewe gedra het en verduidelik so mooi dat ’n mens soms foute maak, soms verstaan mense nie waardeur jy gaan nie en soms bly daar letsels oor nadat jy deur moeilike tye in jou lewe gegaan het, maar die Here kan jou reinig.
“Dus sê die woorde ‘reinig my o Heer, ek is verlore sonder U, ek kan nie oorleef sonder U’. Deur die lied erken ek letterlik my afhanklikheid van God is so groot.”
Dit is die boodskap wat sy aan ander met die lirieke wil oordra.
“Deur die hele album wil ek mense laat besef dat die plan van God die beste plan is. Ek wil mense laat verstaan dat dit oukei is om te vaal, om moeg te word, seer te kry, maar daarna moet jy opstaan met die plan wat die Here al klaar vir jou beplan het.”
Maxine glo die skepping van die CD was ’n plan van God wat sy uitgevoer het en wil die goeie nuus deur musiek deel.
Die CD-bekendstelling vind Saterdag 28 Oktober by Holy Soul Crusade-kerk in Saldanha om 16:00 plaas. Kaartjies kos R50 vir volwassenes en R25 vir kinders.





