Feesgangers bekyk van Anneke Smuts se vele werke wat ten toon gestel is. Foto’s: Yaël Malgas


Dit was ’n naweek van wandel en kuns tydens die Porterville-kunsfees.

Plaaslike kunstenaars en besoekende skeppers het hul werke ten toon gestel by die fees, oftewel die Proudly Porterville Art Weekend soos dit bekend staan. Die fees is van Vrydag (29 September) tot Sondag (1 Oktober) in die Bergrivier-dorp gehou. Vanjaar was die sesde aanbieding van die fees wat deur die Bergrivier-toerismeorganisasie aangebied is.

Die visuele kunstenaar Elna-Mari Smit was een van die plaaslikes wat hul werk by die dorp se skouterrein uitgestal het. Smit se sketse is duidelik deur haar gunsteling-televisieprogramme en deur fantasie- beelde beïnvloed. Volgens Smit teken sy sedert gr. 3 en het sy oor die afgelope dekade net meer en meer haar tegniek verbeter.

Kunsliefhebbers kon kies en keur met verskeie mediums van kuns wat in die verskeie uitstal-lokale te sien was. ’n Paar voorkamers en studio’s se deure is oopgemaak vir die geleentheid. Besoekers kon altesaam tien lokale besoek.

In Franklaan kon besoekers die Cowshed Porterville besoek waar verskeie werksessies aangebied is. Verder in die dorp in Kerkstraat het Alna Prodgers van AlnaPottery Studio nuuskieriges in haar agterplaas verwelkom. Benewens die handgemaakte goedere wat beskikbaar was, kon besoekers ook van Prodgers se pottebakkery aanskaf. Ook by dié adres het Anneke Smuts haar verskeie werke uitgestal. Skets, olieverf, poskaarte en selfs ’n gedig wat Smuts geskryf het, was te sien. Smuts, van Porterville, het meer vertel van haar werk en tegnieke.

“Die verskeie mediums word deur die onderwerp en atmosfeer bepaal wat ek wil skep,” het sy verduidelik.

Feesgangers het hulle nie deur die bewolkte weer laat onderkry nie.

By die skouterrein was onder andere Noluthando T Mbuyisa, een van die besoekende kunstenaars. Mbuyisa, ’n visuele kunstenaar, se helder doeke het verskeie kindergesigte. Sy meen dié gesiggies spreek van die onskuld wat almal gehad het.

“Ek het ’n geestelike reis die afgelope paar jaar onderneem. Ek is deur ’n pastoor grootgemaak en dit het beslis ’n invloed op my lewe gehad. Blou kom gereeld in my werk voor en dit spreek van die reiniging waardeur ons moet gaan,” meen sy.

Mbuyisa, oorspronklik van KwaZulu-Natal, meen Afrika-kunstenaars het so baie om te bied, aangesien dit só ryk aan kulture is.

Onder die ander kunstenaars wat by die fees was, en heeljaar ondersteun kan word, was Paul Kristafor wat met hout werk, die skilder Carin Dorrington en Katja Abbott wat met onder meer klei en materiaal werk.

. Besoek Porterville Toerisme se Facebookblad of porterville.bergriviertourism.co.za vir inligting oor die kunstenaars.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article