Weskussers wat dalk gedink het hulle verbeel hulle dat hul geliefkoosde drankie Saterdagaand om die braaivleisvuur of by ’n kroeg nie die afgelope tyd “heeltemal reg” smaak nie, sal verstom wees om te weet dat dit dalk onwettig verspreide, vervalste drank was.
’n Uitgebreide drankvervalsing- en verspreidingsnetwerk is verlede week in Piketberg oopgevlek wat tot die inhegtenisneming van vyf mans, onder wie twee Zimbabwiërs en twee Chinese, gelei het. Die polisie het op drank van meer as R8 miljoen beslag gelê.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, is benewens die onwettige drank, drankkartonne, bottels, doppies en botteleringstoerusting ook op onwettige Bitcoin-masjiene beslag gelê. Talle leë, gebruikte bottels is ook op die toneel gekry.
Die drank is gebottel onder huishoudelike drankhandelsname soos onder meer Bonne Esperance, Russian Bear, Stretton’s, Tommy Ballards, Viceroy, Wellington, Jameson, Richelieu, Jagermeister, Bell’s, Grant’s, Bols, Klipdrift, Cape Hope, Gordon’s, Highland Queen, Laborie, Olof Bergh, Montego, Malibu en Gentleman Jack.
Op foto’s is dit duidelik dat dit moeilik is om te onderskei tussen dié vervalste bottels drank en wettig gebottelde drank op drankwinkels se rakke.
Die kleur van die drank kan egter verskil omdat dit in ’n oop opslaanswembad in ’n gewone stoor óf vermeng óf verdun is. Die inhoudsvlakke kan ook verskil omdat die bottels met die hand gevul is.
In Suid-Afrika voeg drankvervalsers dikwels metanol by. Dit is ’n industriële oplosmiddel wat in teenvries- en verfstroopmiddels, vernis en naellakverwyderaar te vinde is. Sulke chemikalieë kan lei tot blindheid, orgaanversaking en selfs die dood.
Volgens Helfrich het die Piketberg-polisie twee dae onverpoosd gespook om die drade van die uitgebreide web bymekaar te bring, maar uiteindelik is Blessward Kawowdera (31) en Osweld Mtemajri (33) van Zimbabwe saam met Notime Mutazu (28), Chen Ping (38) en Xialong Chen (57) in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op aanklagte van die vervaardiging van alkohol sonder ’n lisensie.
Hoewel die inhegtenisnemings uit knap polisiespeurwerk spruit, het Helfrich verduidelik presies waar en aan wie die vervalste drank gelewer is, nog ondersoek word.
Waar die beskuldigdes die handelsmerk-bottels en -kartondose met strepieskodes en al bekom het, is nog ’n vraag wat beantwoord moet word.
Michele-Francis Padayachee, uitvoerende hoof van GS1 Suid-Afrika, ’n strepieskode-verskaffer, het in April aan die Krugersdorp News gesê navorsing dui daarop dat tot een uit elke vyf bottels wyn wat in geriefswinkels te koop is, vervals kan wees.
Sy raai verbruikers aan om slegs drank te koop by betroubare kleinhandelaars wat net produkte aanhou met wettige, bevestigbare produk-identifikasie-strepieskodes.
Die KWV het in ’n verklaring ná navrae van Weslander gesê die produksie van vervalste drank en geassosieerde verspreidingsnetwerke is ’n groot probleem in Suid-Afrika. Hulle was egter nie bewus van hierdie onwettige dranksindikaat nie en wens die Piketberg-polisie geluk met hul knap speurwerk wat tot die inhegtenisnemings gelei het.
“Die KWV verwelkom verdere ondersoek deur die polisie om soortgelyke onwettige bedrywighede met wortel en tak uit te roei.”
Vier afsonderlike sake is teen die verdagtes aanhangig gemaak, waarvoor hulle reeds op Vrydag 6 Oktober in Piketberg-landdroshof verskyn het. Die saak is uitgestel tot vandag (Donderdag 12 Oktober), en hulle word tot dan aangehou.




