Wil jy net ’n slag so lag dat jy jou maag vashou of die trane oor jou wange voel rol van pure lekker?
Maak nie saak hóé oud mense is nie – die verhoogstuk Hans steek die Rubicon oor, met Charlie Bouguenon in die hoofrol, spreek tot almal.
Dit is eg Suid-Afrikaans en ’n verwerking van Rudi van Rensburg se gelyknamige topverkoperboek, wat Tobie Cronje vir lank oor RSG voorgelees het. Dié twee vertonings hierdie Sondag (15 Oktober) is ten bate van Huis Wittekruin en vervang hul gewilde jaarlikse sakeontbyt.
Lizz Meiring behartig die regie en onder haar hande speel Bouguenon meesterlik sowat vyftien karakters – elkeen met sy unieke maniërismes en sêgoed.
Hans se stryd om by die idee aan te pas dat hy nou in ’n eng ouetehuis in die Kaap, ene Huis Madeliefie, moet aftree, is almal se voorland. Die wyse waarop hy egter met die proses te werk gaan én vele keer probeer “ontsnap”, is skreeusnaaks en vindingryk met die gepaardgaande konsternasies wat dit veroorsaak. Die stuk het egter ook dieper emosionele oomblikke.
Die twee vertonings van 90 minute elk vind om 14:00 en 17:00 plaas (betyds om nog die Wêreldbekerrugby te kan kyk.) . Kaartjies kos R150 per persoon. Bespreek by Erna du Plessis by 083 285 2729 of by Huis Wittekruin by 022 713 2230 (kantoorure).





