Kinders tussen 7 en 12 jaar oud, wat deur ’n pedofiel verkrag en “rypgemaak” is, het vandeesweek geregtigheid sien seëvier met die vonnis van hul aanrander, wat tot 30 jaar tronk toe gestuur is.
Die Vredenburg-streekhof het dié 49-jarige pa van drie dogters, ’n beweerde wedergebore Christen wat al 14 jaar getroud is, tot 30 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan verkragting en die pleeg van ander onsedelike dade met die kinders.
Eric Nthabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het in ’n persverklaring gesê die hof beveel dat die oortreder se naam in die nasionale register vir seksuele oortreders aangeteken moet word en dat die voog van die betrokke klaers van sy vonnisse in kennis gestel word. Hy is ook ongeskik verklaar om met kinders te werk en om ’n vuurwapen te besit.
Die NVG het besluit om nie die beskuldigde se naam te noem nie om die identiteit van sy slagoffers te beskerm omdat een van sy minderjarige kinders met die slagoffers bevriend is. Die skuldige het die kinders geteiken wat by sy dogter kom speel het.
Hy is op 28 April 2022 in sy huis in Vredenburg in hegtenis geneem nadat die ouma van een van sy slagoffers sy rits seksuele misdrywe by die polisie aangemeld het.
Aanklagte teen hom sluit in: drie aanklagte van seksuele aanranding, twee aanklagte van die gebruik van kinders vir kinderpornografie, ’n aanklag van die vervaardiging van kinderpornografie, ’n aanklag van die besit van kinderpornografie, drie aanklagte van seksuele “rypmaking” van kinders, drie aanklagte van kinderverkragting en ’n aanklag van blootstelling van kinders aan pornografie.
Die hof het die skuldige altesaam 135 jaar direkte gevangenisstraf opgelê, maar het beveel dat hy sommige van sy vonnisse gelyklopend moet uitdien.
Die staatsaanklaer, Chandré Minnaar, het in ’n pleit-en-vonnis-ooreenkoms aan die hof gesê die mishandeling strek oor ’n tydperk van nege jaar, tussen 2013 en 2022. Al die slagoffers was kinders jonger as 14 jaar en al die voorvalle het in sy huis in Vredenburg plaasgevind.
Drie van die vier slagoffers was vriende van sy dogter.
Volgens Nthabazalila het Minnaar aan die hof gesê die beskuldigde het die vertrouensverhouding as die pa van ’n maatjie geskend aangesien hy op slinkse wyse verseker het dat die klaers geïsoleer genoeg voel sodat hy hulle seksueel kan misbruik. “Hy het die klaers op ’n bitter jong ouderdom geseksualiseer deur hulle aan pornografie bloot te stel om hul weerstand teen die daaropvolgende seksuele misdrywe en die verkragtings wat hy gepleeg het, te verminder.”
Sy het verder aangevoer die beskuldigde het ’n duidelike patroon van voorbereidende gedrag getoon deur jong en kwesbare kinderslagoffers noukeurig uit te kies, en dat die slagoffers vernedering en agteruitgang ervaar het met die blootstelling aan pornografie wat gebruik is vir die skep van kinderpornografie, die seksuele oortredings en die seksuele penetrasies.
“Hy het die heiligheid van sy gesinshuis besoedel met sy onwettige en goddelose seksuele oortredings teen die kinderklaers toe sy vrou by die werk was. Die seksuele misdrywe wat hy gepleeg het, het talle regte van die kinders op privaatheid, waardigheid en liggaamlike integriteit geskend. Hy is skuldig aan misdrywe teen een van die mees kwesbare groepe in ons samelewing, ons jong kinders, en die onherstelbare sielkundige skade wat hy aan die klaers aangerig het, kan nie onderskat word nie.”
Adv. Nicolette Bell, die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het die vonnis verwelkom en haar skok uitgespreek oor die grusame misdade wat die beskuldigde teen die kinders gepleeg het.




