Oë opgeswel; potblou – só geslaan dat sy skaars kan asemhaal.
Só het St. Helenabaaise polisiebeamptes Sondagaand omstreeks 18:00 ’n 30-jarige vrou in ’n ou buitetoilet in Hoofstraat, Laingville, gekry nadat die gemeenskap hulle ontbied het.
Die polisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich het gesê Bianca Maarman was só swak dat sy skaars kon praat. Sy is per ambulans eers na die Vredenburg-staatshospitaal geneem en is daarna na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas. Die neurologiespan wag om haar te ondersoek. Haar toestand is stabiel.
’n Verdagte, Kelvin Harris (39), is in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hy is in 2022 skuldig bevind aan ernstige aanranding.
Die mense van Laingville het Dinsdagmiddag opgeruk na Harris se huis omdat hulle onder die indruk was dat hy al borgtog gekry het.
Helfrich het gesê Harris sal vandeesweek in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Volgens Thyrone Williams, ’n gemeenskapsleier, is Maarman vir tien dae lank gemartel voordat sy gekry is. Hy is besorgd daaroor dat die regstelsel weer die Laingville-gemeenskap met betrekking tot geslagsgebaseerde geweld in die steek gaan laat. Dié gemeenskap is steeds in skok nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof vroeër vanjaar die saak laat vaar het teen die verdagtes wat van die moord op Berodine Boyce (16) in 2018 verdink is. Boyce se lyk is op 12 Julie 2018 langs die sportvelde gekry.




