Stygende kospryse is ’n kwessie waarmee verbruikers en ondernemings daagliks stoei.
Die onlangse uitbreek van voëlgriep het ’n tekort aan eiers en hoender veroorsaak asook buitensporige pryse geplaas op die produk wat wel te vinde is in winkels. Verbruikers het ook ’n styging in meel- en aartappelpryse gesien.
Wil-Marié Nortier, eienaar van Lammies Bakery, het aan Weslander vertel dat sy reeds ’n paar maande gelede agtergekom het hoe die pryse van eiers styg. Dié bakker is van eiers afhanklik en in besige weke gebruik sy omtrent 60 tot 80 eiers. Nortier maak gebruik van “free range”, wat nou moeiliker is om in die hande te kry. Minder as ses maande gelede het Nortier slegs R75 vir 30 eiers betaal by ’n plaaslike verskaffer in Hopefield, nou het die prys gestyg tot R89 en tussen R60 en R90 vir slegs 18 eiers, gebaseer op grootte en beskikbaarheid by twee verskillende veilige verskaffers.
“Ek dink die paniek oor die eier- tekort vir klein ondernemings is ietwat groter, omdat groot ondernemings makliker die koste daarvan kan absorbeer in plaas daarvan om hul pryse te verhoog. Sommige ondernemings het ’n kwota per verbruiker om slegs ses eiers op ’n slag in die winkel te mag koop.”
Stefan Grobler, eienaar van Deli on Main in Dwarskersbos, sê om aankope te doen moet hulle koop waar dit beskikbaar is. Die restaurant maak gebruik van aartappels en eiers, veral eiers in baie van hul produkte. Die restaurant glo daaraan om gebruik te maak van plaaslike verskaffers en by hulle aankope te doen wat nou self ook sukkel met aflewerings of hul pryse moes hersien. Grobler verduidelik dat hulle met ’n vaste spyskaat werk en dat dit ekstra koste sal meebring om elke keer ’n nuwe spyskaart te druk met ander pryse. “Die hele situasie het tans ’n kettingreaksie op alles.”
’n Anonieme inwoner van Vredenburg sê daar is kommer onder baie wanneer dit kom by die hoë pryse en die toekoms van die generasies wat nog moet kom. Die inwoner sê dit is ’n hewige debat wat jare gaan spook en moontlik erger gaan raak. “Ons middel- klas kry swaarder en armoede gaan meer kop uitsteek.” Nortier voeg by elke onderneming moet weet dat dit nie volhoubaar is om stygende koste te probeer absorbeer nie. “Ek raai klein ondernemings aan om nie die koste van stygende bestanddele te absorbeer nie, maar eerder hul pryse te verhoog waar nodig, omdat dit net ’n lewenskoste- krisis sal meebring vir mense wat reeds hard werk om brood op die tafel te sit.”




