Die grond vir die sonkragprojek is naby aan huise in die gebied.


Inwoners van Lampiesbaai in St. Helenabaai bevraagteken die aktiwiteite en beweging op die stuk grond van die voorgestelde sonkragprojek.

Weslander het in Augustus 2022 berig oor die hernubare-sonenergie-projek van 10 MW wat beplan word op ’n stuk grond wat aan Lucky Star, wat deel van die Oceana-groep is, behoort, (“Kommer oor sonkragprojek ál meer,” 25 Augustus 2022).

By navraag aan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het Tereza Burger, ’n woordvoerder, gesê die grondgebruik-aansoek is deur die gemagtigde beampte goedgekeur en die besluit is nou onderworpe aan ’n tydperk waarbinne appèl aangeteken kan word.

“Tydens inspeksie deur SBM- amptenare is geen bewyse gevind van ongemagtigde bedrywighede nie.

“Indien daar grondige bewyse is van onwettige grondgebruik op die eiendom, sal wetstoepassingsaksie geneem word.”

Tiana Fataar, ’n kommunikasiebeampte van die Oceana-groep, het bevestig dat beplannings- en omgewingsgoedkeuring vir die sonkragprojek toegestaan is. Fataar het bygevoeg dat dit wat tans op die terrein plaasvind, “voorlopige grondtoetsing [is], nie ontwikkelingswerk nie.”

Weslander het ook destyds met Herman van der Bank, ’n woordvoerder van die Lampiesbaai Aurora-aksiegroep, gesels aangesien hulle steeds by hul teenkanting van die projek staan.

“Ons is steeds sterk gekant teen die sonplaas omdat ons kwelpunte nie opgelos word nie. Die enorme kunsmatige en bewegende panele, wat so groot as 20+ rugbyvelde is, het slegs negatiewe gevolge – finansieel en vir gesondheid, besoedeling ensovoorts vir ons.”

Van der Bank vra: “Waarom is die beste alternatief – golfkrag, wat elke minuut van die dag en nag elektrisiteit opwek – nie puntsgewys met sonkrag vergelyk nie? Om die oogseer-aansig van die sonplaas te verminder, het die Oceana- groep destyds genoem hy gaan bome gebruik om dit te verminder.

Van der Bank vra egter: “Waar gaan die honderde bome, wat 3 m hoog moet wees en min instandhouding verg, en wat vir die Weskus geskik is, vandaan kom? Ongelukkig is die besluite wat geneem is, nie goed gemotiveer nie.”

’n Inwoner stem ook saam dat die inwoners van die gebied nie genoeg betrek is by die besluit van die projek nie. “Nie dat ons teen hernubare energie is nie, maar waar dit opgerig word, moet met inwoners bespreek word.”

Volgens die inwoner sal die sonplaas ’n negatiewe invloed op eiendomswaarde hê en hy wonder of mense regtig verstaan wat die projek behels.

Fataar het ook vroeër gedeel dat die sonkragprojek lewensvatbaarheid van die bedrywighede in die gebied verbeter en “sal help om langtermynwerksgeleenthede en breër ekonomiese voordele te verseker en te volhou”.

Inwoners wag in spanning om te sien watter ontwikkeling hulle inwag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article