Vyf mans wat in Piketberg daarvan aangekla word dat hulle R8 miljoen se drank wederregtelik vervaardig het, is almal op borgtog vrygelaat.

’n Uitgebreide drankvervalsing- en verspreidingsnetwerk is voorverlede week in dié dorp oopgevlek waarna vyf verdagtes, onder wie twee Zimbabwiërs en twee Chinese, in hegtenis geneem is.

Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, is die saak teen Blessward Kawowdera (31) en Osweld Mtemajri (33) van Zimbabwe, Notime Mutazu (28), Chen Ping (38) en Xialong Chen (57) vir verdere ondersoek uitgestel.

Ping en Chen is elk op borgtog van R10 000 vrygelaat terwyl Kawowdera, Mtemajri en Mutazu elk R5 000 borgtog gekry het. Al die beskuldigdes moes hul paspoorte indien en hulle moet gereeld by die polisiekantoor aanmeld en mag nie die gebied sonder die toestemming van die ondersoekbeampte verlaat nie.

Die beskuldigdes moet weer op Maandag 11 Desember in die Piketberg-landdroshof verskyn.

“Hoewel die aanklag op hierdie tydstip die vervaardiging van alkohol sonder ’n lisensie is, sal meer aanklagte waarskynlik in ’n latere stadium bygevoeg word namate die ondersoek vorder,” het Ntabazalila gesê.

Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het verlede week ná die inhegtenisnemings gesê benewens die onwettige drank, drankkartonne, bottels, doppies en botteleringstoerusting is ook op onwettige Bitcoin-masjiene beslag gelê. Die leë, gebruikte bottels wat ook op die toneel gekry is, dui daarop dat wettige drank uitgegooi en vermoedelik óf vermeng óf verdun is.

Die drank is dan geherbotteleer onder huishoudelike drankhandelsname soos onder meer Bonne Esperance, Russian Bear, Stretton’s, Tommy Ballards, Viceroy, Wellington, Jameson, Richelieu, Jagermeister, Bell’s, Grant’s, Bols, Klipdrift, Cape Hope, Gordon’s, Highland Queen, Laborie, Olof Bergh, Montego, Malibu en Gentleman Jack.

Dit is moeilik om tussen dié vervalste en wettig gebottelde drank op drankwinkels se rakke te onderskei.

Drankvervalsers voeg in Suid-Afrika meestal metanol by. Dit is ’n nywerheidsoplosmiddel in teenvries- en verfstroopmiddels, vernis en naellakverwyderaar en kan tot blindheid, orgaanver­saking en selfs die dood lei.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article