Die huidige Wêreldbekerrugbytoernooi is vir die meeste Suid-Afrikaners baie persoonlik, so glo ek. Dié van ons wat die toernooi vir die afgelope paar weke gevolg het, sal hiervan kan getuig. Daar is net iets anders aan hierdie toernooi wat dit vir ons as nasie ’n ekstra spesiale een maak.

Die titaniese stryd teen die gasheerland, Frankryk, die afgelope naweek was vir my ’n duidelike bewys hiervan. Almal het verwag dat hierdie nie ’n maklike een vir ons geliefde Bokke sal wees nie. Ek meen maar, Frankryk het die voordeel van ’n begeesterde tuisskare gehad; duisende van hulle wat bankvas agter hul Hane gestaan het. Daai begeesterd wees kon jy ook in hul span gewaar toe hulle daai eerste drie agter die doellyn gaan druk het, maar soos ons hier in Suid-Afrika sal sê, daai Hane ken nog min jokes.

Ja, ons kon seker ook maklik op die dag verloor het, want lanklaas het ek so ’n tawwe wedstryd teen twee magtige rugbyspanne aanskou. Natuurlik, want alles was op die spel vir albei spanne. In ons geval, die geloof dat ons weer, soos in 2019, daardie trofee huis toe sal bring.

Tussen 2019 en nou het daar al so baie in ons mooi land gebeur. Selfs voor dit. Ons as land en nasie het al deur so baie gekom en dis elke keer ons veerkragtigheid wat ons die knoop laat deurhaak. En waar ons onsself tans bevind, is daar ’n absolute honger na ’n egte vorm van hoop en die versugting dat, ten spyte van al ons uitdagings, ons sonder twyfel ’n wennasie is.

Dis die boodskap wat ek glo ons geliefde Springbokke verstaan. Die afgelope wedstryd teen die Franse Hane het opnuut bewys hoe ons span die drome van ’n land lewend kan hou. Het jy ook, soos ekself, opnuut na ons Bok-span gekyk en besef dat hierdie ’n werklik verteenwoordigende span is wat alles vir sy land en mense op die rugbyveld sal opoffer? Het jy ook daardie absolute passie en nasietrots op kaptein Siya se gesig gesien toe hy ons volkslied gesing het?

En toe daardie eerste helfte wat ons almal vasgenael voor ons TV’s gehou het. Miljoene Suid-Afrikaners verenig agter ons Bok-span.

En in tipiese Suid-Afrikaanse styl was alle sosialemedia-platforms vuurwarm en aan die brand. Ek kan my net indink hoe die braaivleisvure al van laat namiddag af hoog gebrand het. Die voorspellings teen of vir die Bokke is gemaak. Ek sien al hoe van ons deurwinterde Bok-ondersteuners dalk te diep aan die brannas en Coke gesluk het en al vroegaand die aftog moes blaas. Vir die meeste van ons wat wel die skouspel gevolg het, was daar naelbyt-oomblikke van begin tot einde. Ekself moes iewers in ’n stadium ’n halwe Disprin sluk, net om die bloed bietjie dun te hou, want tydens party dele van die wedstryd kon ek gewaar hoe my bloeddruk die hoogte in skiet.

Soos nog nooit tevore nie kon ek in my gees aanvoel hoe ons as ’n nasie stilweg saam gebid het vir daardie oorwinning. Ons het hierdie oorwinning so broodnodig gehad, want ons land kan doen met nog ’n wêreldbekertrofee op die tuisfront. Daarmee saam, die stille gebed dat ons politieke leiers van die dag hopelik iets sal kan snap van hoe dit kan wees as ons as nasie, soos ons geliefde Bokke, kan saamwerk en saam wen. Het jy ook, soos ekself, na ons span gekyk en nie kleur raakgesien nie? Dit was onse boys daar op die veld. Elkeen van hulle is op meriete vir die span gekies. En toe daai eindfluitjie blaas, wou ek, buite myself, net loop en dankie skree vir elkeen van ons manne. Julle het opnuut weer ons vlam van nasietrots hoog laat brand. Elkeen van julle verstaan ons hart en elkeen van julle het in daardie senutergende oomblikke diep gaan grawe om vir ons daardie een-punt-verskil-oorwinning te behaal.

Wat ’n heerlike gesig was dit nie om ons nasie te sien feesvier ná daardie naelbyt-wedstryd nie! Die flêtse in die Paarl het gejubel van blydskap. In die Jakarandastad het die strate gewemel van spontane oorwinningskrete. In die Baai het die feesvure tot diep in die na-nag nog hoog gebrand om ons kaptein en sy span se oorwinning oor die Hane te vier. In Kraaifontein is niemand gepla deur die luidrugtige feesvieringe van die bure langsaan nie. In Khayamandi word die volkslied nog ’n keer uit volle bors gesing en in Springbok word daar sommer gerieldans van pure Bok-plesierigheid!

Op pad na die halfeind maak ons as nasie gereed vir nog ’n skouspel wat ons uiteindelik dalk weer die gesogte trofee huis toe kan laat bring. Ek, en ek glo jy ook, is so dankbaar vir ons manne in groen en goud wat ons land weer daai vlam van hoop laat ervaar en ons opnuut herinner aan wie ons as ’n nasie is – ’n wenspan!

En wie weet, dalkies word ’n nasionale vakansiedag deur oom C verklaar as ons weer met daai gesogte trofee aan die tuisfront kan spog. Ons het dit al voorheen gedoen. Ons kan dit weer doen. Maak oop die hekke . . . die Bokke is hier!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article