Lede van Langebaan se gemeenskapspolisiëringsforum, raadslede, Tertius Simmer (Wes-Kaapse minister van infrastruktuur), dr. Keith Cloete van die provinsiale departement van gesondheid en borge by die bekendstelling van die Langebaan-kliniek se nuwe kragstelsel. Foto: Yaël Malgas


Langebaan-kliniek se dienste kan nou ononderbroke voortgaan, ook gedurende beurtkrag.

Danksy skenkings en hulp het die staatskliniek nou ’n omskakelaar van 10 kWh en sonpanele wat beteken die ligte bly aan en die koelkamer is koud genoeg vir dienste om aan die gang te bly.

Volgens ’n Langebaner was dit altyd ’n gesukkel vir die personeel tydens beurtkrag omdat pasiënte se data met die hand geneem moes word en hul mediese geskiedenis nie getrek kon word nie.

Dr. Keith Cloete, hoof van gesondheidsdienste in die provinsie, het Vrydag by die bekendstelling van die nuwe infrastruktuur gesê dié geleentheid is ’n voorbeeld van wat die publiek, privaatsektor en die staat saam kan verrig. “Die Whole of Society Approach (WoSA) is gegrond op die beginsel om saam gemeenskaplike probleme op te los. Danksy die goeie verhoudings in hierdie gemeenskap is Langebaan-kliniek nou in staat om die beste diens moontlik aan die gemeenskap te lewer,” meen Cloete.

Die personeel sê die stelsel is ’n aanwins en hulle was byna in trane oor die groot verskil wat dit aan hul werkswyse gemaak het.

Team Langebaan was agter die stuur van die projek. Dave Allam van Team Langebaan vertel daar was heelwat papierwerk wat afgehandel moes word en verskeie prosedures wat gevolg moes word, maar uiteindelik, met die nodige hulp, is die projek voltooi.

Die gemeenskapsorganisasie is aanvanklik deur Sharp Solar genader met die skenking van die omskakelaar. Nadat koppe bymekaar gesit is, is besluit die kliniek sal die beste plek vir die omskakelaar wees aangesien die plaaslike laerskool reeds een het. Menlo Electric was verantwoordelik vir die installering van die omskakelaar, sonpanele en batterye. Die volgende groot droom is om die dorp se hoofroete belig te hou tydens beurtkrag en Juan Swanepoel van Sharp Solar meen dit is net ’n kwessie van tyd voor hulle dié droom bewaarheid.

Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het die gemeenskap gemaan om goed na die nuwe infrastruktuur te kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article