Pienk naels vir Borskankerbewustheidsmaand. Maar, dié twee kinderbeskermingspeurders moet nié ligtelik opgeneem word nie (weens die sensitiewe sake waarmee hulle werk, word hul gesigte nie gewys nie).Foto: Alida Buckle


Soms is die trauma wat die kinders beleef só groot dat hulle hulself afvra: as ek in die kind se skoene gestaan het, sou ék dit oorleef het?

Speursers. Helendine May (48) en speurkonst. Refilwe (Fifi) Sekhabe (32) werk al onderskeidelik vier en drie jaar by die Vredenburgse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (KBS). Hul deeglike ondersoekwerk het onlangs uitgeloop op stewige vonnisse vir twee kinderverkragters: 30 jaar vir ’n 49-jarige Vredenburgse pa (Oortreder A) wat sy stiefdogtertjie en haar maatjies ge-groom en verkrag het, en 10 jaar vir ’n man van Laaiplek (Oortreder B) wat sy vriende se negejarige seun verkrag het.

Tyd vir feesvier of ’n glasie klink op dié suksesvolle vonnisse is daar egter nie, want met net sewe ondersoekbeamptes vir elf Weskusdorpe en omliggende gebiede, met net een voertuig, werk hulle onder ongelooflike druk om by al die sake wat instroom, uit te kom.

Om net een saak deurgevoer te kry, word ure bestee aan die afneem van verklarings van slagoffers, en om saam met hulle by die hospitaal te wag sodat die nodige ondersoeke gedoen en DNA-monsters geneem kan word.

May en Sekhabe vertel dit gebeur dikwels dat nuwe sake van ander dorpe af inkom terwyl hulle nog saam met ’n slagoffer by die hospitaal sit en wag. Dan word die “nuwe” slagoffers eenvoudig ook hospitaal toe gebring en moet hulle al die slagoffers terselfdertyd hanteer.

Maar hulle bly passievol en toegewyd oor hul werk.

Oortreder A, oor wie Weslander berig het (“Kinderverkragter kry 30 jaar dinktyd”, 12 Oktober) het skuld beken op die aanklagte teen hom, onder meer kinderverkragting, seksuele aanranding en verskeie aanklagte oor die maak en besit van kinderpornografie. Hoewel vier slagoffers getuig het, was daar ander wie se ouers nie hul kinders deur ’n hofgeding wou sit nie en wou verhoed dat hulle in die gemeenskap gestereotipeer word. “Kinders vra nie dat dit met hulle gebeur nie, tog kleef daar ’n stigma aan hulle: mense weerhou hul kinders om met hulle te speel; maatjies spot hulle.”

Pleitooreenkomste, soos in Oortreder A se geval, help geweldig baie om sake vinniger af te handel.

Oortreder B, vertel Sekhabe, se hofsaak het so gesloer dat die slagoffer vanjaar eers, ses jaar ná die verkragting, in die hof kon getuig. Oortreder B het al voorheen ’n tienjaar-vonnis vir kinderverkragting gekry, maar net ’n jaar en ’n half uitgedien voordat hy met die presidensiële amnestieproses in 2017 vrygelaat is. Die verkragting het net daarna plaasgevind.

Dié amnestie is ’n groot bekommernis vir May en Sekhabe, want die oortreders is in die meeste gevalle nog nie gerehabiliteer nie. Hoewel hulle in hul harte daarvan oortuig is dat die soort seksuele oortreders met wie hulle daagliks werk, nooit werklik gerehabiliteer word nie. “Dit is nie iets waaruit hulle groei nie. Hulle word net slimmer in die tronk; sit en maak planne oor hoe om te voorkom dat hulle weer gevang word; sit en slyp hul skills.”

Hulle kan name noem van pedofiele wat ná vrylating net slimmer te werk gegaan het, dit moeiliker gemaak het om hulle weer vas te trek.

May meen dit is eintlik beter vir ’n pedofiel om in die tronk te bly, want daar is nie kinders om hulle in die versoeking te lei nie.

“Volwassenes wat kinders verkrag het geen verskoning nie. Dit is net verkeerd.”

Trauma uitgerek

Dit is nadelig dat kinders só lank ná die tyd eers in die hof getuig. “Die trauma is beter om te hanteer as die hofsaak vinnig ná die verkragting plaasvind.” Soos ’n saak uitrek, so ervaar die kinderslagoffers net verdere trauma. ’n Sesjarige praat makliker oor wat gebeur het.

“Die kans is groter dat ’n ouer kind gaan toemaak, nie daaroor wil praat nie, of selfs besluit om nie te getuig nie.”

Die DNA-toetse neem darem nou weer drie maande in plaas van twee jaar. “Dit maak ’n verskil, want sake hoef nie meer tydelik van die hofrol verwyder te word nie. Ons sake berus op DNA-bewyse.”

Sekhabe meen seksuele sake behoort op die langste ses maande te duur, want daar is buiten die DNA-uitslag nie nog forensiese toetse en misdaadto-nele wat ondersoek moet word nie. “Teen die derde hofverskyning is die ondersoek gewoonlik voltooi en die dossier volledig.

“Die verhoor moet net begin, maar die hofrol, hoewel nou vinniger, is verskriklik vol en die Vredenburg-landdroshof moet alle soort sake hanteer, nie net ons s’n nie.

“Pedofiele staan nie net eendag op en begin om kinders te verkrag nie. Die meeste pedofiele se gedrag begin reeds járe voordat hul dade uitkom.”

Dit is frustrerend dat soveel ma’s van kinderslagoffers, veral as die oortreder die pa is soos in Oortreder A se geval, probeer om onsuksesvol sake terug te trek. Daar is wel ’n vroeëre saak op Malmesbury teen hom teruggetrek, waarna hy Vredenburg toe verhuis het, net om slimmer te werk te gaan en tussen 2013 en 2022 verskeie kinders te verkrag.

“Oortreders speel die long game. Hulle wen eers die slagoffers se vertroue,” meen May. Maar mense rapporteer nie pedofiele vir grooming nie, eers as ’n verkragting plaasvind kom dit gewoonlik uit dat die oortreder lank voor die tyd al die slagoffer begin bearbei het.

Die tekort aan personeel bemoeilik op die oomblik hul taak, want hulle sou baie meer tyd aan elke saak wou wy.

“As ons genoeg ondersoekbeamptes was, sou ons meer as net die basiese kon doen.”


Waarom dan aanhou werk onder die druk, stresvolle omstandighede en beperkte hulpbronne?
Want hulle geniet hul werk.

Sekhabe geniet dit om te sit en luister na slagoffers; om die saak te ondersoek, hof toe te gaan en dit deur te voer.

May beaam dit.

“Om die inligting uit ’n slagoffer te kry is soms moeilik. Jy leer jouself maar ’n taktiek aan, tel dit so met tyd op. Maar, jy moet ’n passie hê om met mense te werk, anders gaan jy nie daai fynere detail uit ’n slagoffer kry nie.”

Hulle geniet ook die interaksie met ander rolspelers soos die personeel van die hospitaal, die hof en maatskaplike werkers.

Hulle beskou hulself, met reg, as next level. “Almal weet dat nie enigiemand dít wat ons by KBS doen, kan doen nie: om na ’n sesjarige te luister wat vir jou vertel wat ’n man met haar gedoen het, en dan huis toe te moet gaan na jou eie kind toe …” Hulle kry dít net reg deur werk en huis te skei.

Soms kyk hulle na ’n jong slagoffertjie en kan nie help om te dink: dit kon my kind gewees het nie.

Daarom is hulle erg oorbeskermende ma’s: daar word nie oorgeslaap of rondgeloop nie, want hulle wéét wat kán gebeur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article