Die plaaslike polisie ondersoek ’n voorval waarin ’n vrou in haar huis in Dwarskersbos deur rowers oorrompel is.Foto:


Huisrowers het ’n vrou van Dwarskersbos Woensdag omstreeks 01:00 in haar huis oorrompel, vasgebind, ’n kussingsloop deels in haar mond gedruk en nog ’n kussingsloop oor haar kop getrek.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, het die verdagtes ’n selfoonbatterylaaier, juwele, ’n I-Phone en I-Pad en die slagoffer se spaarvoertuigsleutels gebuit.

Helfrich doen ’n dringende beroep op die publiek om saans hulle deure te sluit en nie net toe te trek, soos in hierdie geval nie. “Maak seker die huis se diefwering is in ’n goeie toestand en installeer veiligheidsdeure en -kamera’s. Sluit aan by jou buurtwag.”

Die drie mans wat die 54-jarige vrou oorval het, het kouse oor hul hande gedra en was nie gewapen nie.

Die slagoffer se bure het teen 05:00 onraad bespeur toe hulle sien hoe die rowers sakke vol hout van haar bakkie aflaai om plek te maak vir onder andere haar televisie.

Die bure het alarm gemaak en die rowers het te voet op die vlug geslaan.

Helfrich het gesê dit wil voorkom of die booswigte rondgegaan en ‘getoets’ het of die deure gesluit is. “Dit maak dit net makliker vir hulle as daar geen honde is wat blaf of ’n alarm wat afgaan nie. Mense moet dit so moeilik as moontlik maak vir booswigte om toegang te verkry.”

Sy raai mense selfs aan om hul honde by hulle in die huis te laat slaap.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article