Baie Weskussers het die Bokke se eindstryd teen Nieu-Seeland op die televisie gekyk, ander op hul fone, en sommige het na die draadloos geluister – en dan was daar Stephan Bouwer . . .
Stephan, wat in Saldanha grootgeword en in 2010 aan die Hoërskool Vredenburg matrikuleer het, woon deesdae is Utrecht, Nederland.
Hoewel ver van die sand en see van die Weskus, is Nederland nie ver van Frankryk, waar 2023 se Rugbywêreldbekertoernooi aangebied is nie, en dit is waar Stephan hom onlangs bevind het. Gepantser in sy groen-en-goud het dié Weskus-seun ’n paar van Suid-Afrika se wedstryde tydens die wêreldbeker gaan kyk, maar toe die Springbokke na die eindstryd deurdring, het hy geweet hy moes net daar wees om die kragmeting eerstehands te aanskou.
Hy het 16 ure aanlyn gespook om ’n kaartjie te koop, en ná vele refresh-es van die webblad het hy die “goue kaartjie” gehad.
’n Buskaartjie en ses ure se reis later het Stephan Saterdag (28 Oktober) in Parys aangekom om te sien hoe geskiedenis gemaak word.
Ná ’n vinnige Franse ontbyt – met ’n vars croissantnatuurlik – het hy besluit om toeris in die Stad van Liefde te wees en die Eiffeltoring besoek, asook die bekende Notre Dame, wat herstel word ná ’n brand by dié bekende katedraal in April 2019.
Hy het selfs ’n draai by die bekende Louis Vuitton-winkel gemaak en gekyk na pryse wat bo sy prysklas is.
In aanloop tot die groot wedstryd het Stephan ’n vinnige uiltjie geknip op ’n familie-kennis se bank en vandaar was dit vort na die groot wedstryd.
Daar is Stephan toe tussen miljoene ander rugbyliefhebbers in sy groen-en-goud-uitrusting en het hy self gesien hoe die Bokke geskiedenis maak deur hul vierde wêreldbeker, die tweede agtereenvolgende een, teen die All Blacks te wen. ’n Paar uur later was hy veilig terug in Utrecht en het saam met die res van Suid-Afrika feesgevier.





