Eerstens – ’n reuse-gelukwensing aan ons manne in groen-en-goud, die Bokke, wat Saterdagaand in die Stade de France in Parys, Frankryk, geskiedenis gemaak het deur die eerste nasie te word wat die Webb Ellis-trofee die vierde keer omhoog hou – dit ná nog ’n asemsnak-naelbyt-aflewering in die eindstryd teen die All Blacks waar die Bokke vir die derde agtereenvolgende wedstryd ’n sege met een enkele punt beklink het.

Die week in aanloop tot die groot wedstryd is egter oorskadu deur beweerde diskriminerende gedrag deur Bongi Mbonambi teenoor Engeland se Tom Curry toe eersgenoemde glo “wit kant” geskree en dit verkeerdelik in Engels deur Curry geïnterpreteer is. Gesprekke dat die Springbok-haker moontlik geskors kan word en nie in die eindstryd sou kon speel nie, het groot kommer onder ondersteuners veroorsaak – veral omdat Mbonambi ’n sleutelspeler in die wêreldbekerreeks was.

Gelukkig het Wêreldrugby betyds bevestig geen klagtes kan teen Mbonambi gebring word nie – weens ’n gebrek aan bewyse.

In ware Suid-Afrikaanse styl het ondersteuners ’n laer om Mbonambi getrek en vinnig tot sy verdediging gekom. En soos net Afrikaners kan, het die een ná die ander kwinkslae gevolg oor die woord “kant” op sosiale media. Een ding is vir seker: die Bokke het gewis hul kant gebring!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article