Ontwikkeling, verandering en groei is duidelik te sien aan die Weskus met Saldanha alleen wat R10,9 miljard tot die bruto binnelandse produk (BBP) bygedra het.

Volgens die Wes-Kaapse regering se jongste munisipale ekonomiese hersiening en vooruitsigte was die bevolking 468 764 in 2021. Net meer as die helfte van die inwoners, 50,4%, is van die skoner geslag.

Staal, wyn en sitrus was die top-drie produkte vir die streek in 2021 met Nederland, Amerika en België wat die top-uitvoerlande was.

Dit is geen verrassing nie dat hoofsaaklik landbou en mynbou die Weskus se primêre sektor uitmaak.

In die sekondêre sektor is vervaardiging die hoofbedryf (19,2%) gevolg deur konstruksie (3,3%). Die tersiêre sektor, wat ook die dienssektor genoem word, is die grootste bydraer tot BBP in 2020, met 53,4%. Groot- en kleinhandel, spyseniering en akkommodasie (13,7%) en finansiering, eiendom en besigheidsdienste (14,6%) was die hoofsektore wat tot die tersiêre sektor bygedra het.

Saldanhabaai, waarvan die ekonomiese aktiwiteite grootliks uit dienste bestaan, was die streek wat die meeste rande tot die Weskus se BBP bygedra het. Swartland was volgende (R9 miljard), gevolg deur Matzikama (R5 miljard), Bergrivier (R4,8 miljard) en Cederberg (R4,2 miljard).

“Tussen 2016 en 2020 het die distrik se ekonomie ’n byna stagnante gemiddelde jaarlikse groeikoers van 0,1% aangeteken. Hierdie koers was hoër as die gemiddelde jaarlikse inkrimping van 0,4% wat in die provinsie oor dieselfde tydperk ervaar is.

“Die verbeterde prestasie van die distrik relatief tot die provinsie oor die tydperk kan moontlik toegeskryf word aan sy afhanklikheid van die landbousektor,” verklaar die studie.

Dit blyk toerisme in die streek word hoofsaaklik deur die natuurskoon gedryf met natuur-ritte (26,3%) wat besoekers se hoofaktiwiteit was. Die kos (14,7%) en die kulturele en erfenis gebaseerde aktiwiteite (9%) was ook gewild by diegene wat die Weskus besoek het. Van die vele besoekers wat in 2022 na die streek gestroom het was 94,5% van die res van die land en 4,5% van oorsee.

Volgens die bevindings is dit veral die internasionale vraag na wyn wat die Swartland se landbougroei gedryf het. Dié munisipale gebied se olyf-, suiwel- en koringboere het veral positiewe opbrengste in 2020 en 2021 gehad, maar die stygende koste van brandstof en kunsmis het veral dié sektor verlede jaar geraak.

Veral die belegging in opgraderings­werk aan die Saldanha-hawe en die ontwikke­lings wat verwag word in die Freeport Saldanha word as positief vir die streek beskou, met veral internasionale groei wat verwag word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article