Nog minder kreef is hierdie seisoen vir vissers van alle sektore beskore, het die departement van bosbou, visserye en omgewing Maandag laat hoor.
Volgens die departement is die snoei van meer as 16% aan die algehele toegelate vangs (TTV) vir die sektor weens ’n afname aan die kreefbron.
“Die oes van Weskus-kreef op vlakke wat nie groei van die hulpbronne fasiliteer nie, is onoordeelkundig en hou ’n bedreiging van ernstige en onomkeerbare omgewingskade in,” sê dr. Kim Prochazka, waarnemende adjunk- direkteur-generaal van visserybestuur, in die amptelike kennisgewing. “In die vooruitskatting van hoe die oorvloed van die hulpbron beïnvloed sal word deur die vermindering van die TTV en die beperking van die totale toegepaste poging, is ’n TTV van 460 ton vir die 2023-’24-visseisoen besluit.”
Die algehele toegelate vangste vir die 2023-’24 seisoen is:
. Kommersiële visserye: 231,09 ton;
. Kommersiële visserye (kus): 78,54 ton;
. Ontspanningsvisvang: 14,4 ton;
. Vissers met tussentydse verligting en kleinskaalse vissers (kus): 78,54 ton; en
. Kleinskaalse vissers 57,79 ton.
Geen vangste vir kreef word aan buitelandse vissers toegestaan nie.
Volgens die departement is die jongste wetenskaplike data gebruik om die besluit te neem. Hoewel die sektor dalk ongelukkig met die afname in toegelate vangste is, is die aankondiging nie onverwags nie.
Die TTV is vir die afgelope dekade jaarliks gesny. Die aankondigings kom egter nie sonder kritiek nie. In 2021 het minister Barbara Creecy die TTV vir die 2021-’22-seisoen hersien nadat kommersiële en kleinskaalse vissers teen die vasgestelde 600 ton vir die sektor vasgeskop het. Uiteindelik is die vangste tot met 100 ton vermeerder.
Ontspanningsvissers ouer as 12 jaar moet ’n permit hê om hul vier krewe per dag te kan uithaal. Enigeen wat kreef tydens die toegelate 12 dae sonder ’n permit vang, vervoer, aanhou of in hul besit het, sal vervolg word. ’n Permit kos R94 en kan by die poskantoor of op die departement se webtuiste verkry word.
Dié vissers mag nie kreef verkoop nie, aangesien dit deur die departement verbied word. Ontspanningsvissers kan tussen 08:00 en 16:00 vang en kreefsterte moet minstens 80 mm lank wees.



