Kapt. Bossie Bostelmann, die Laaiplek-polisiehoof, luister namens die hof na SP Tredouw se petisie wat hy namens die Sandveld-landbouvereniging voorgelees het. Foto’s: Alida Buckle


“Ons wil net geregtigheid laat geskied.”

Dít was die pleidooi wat verteenwoor­digers uit verskillende sektore van die Sandveld- en Weskusgemeenskap Maandagoggend aan die amptenare van die Laaiplek-landdroshof kom lewer het.

Hulle het geskrewe petisies oorhandig met duisende handtekeninge om te vra dat borgtog nie toegestaan word aan een van Pierre (59) en Belinda de Kock (56) van die Holvlei-teeplaas in die Aurora-distrik se vermeende moordenaars nie.

Phindile Khaya Pone, ’n burger van Lesotho en wat vir die De Kocks gewerk het, is verlede week vasgetrek. Hy het Maandagoggend die tweede keer in die landdroshof op twee aanklagte van moord verskyn. Sy twee vermeende medepligtiges, wat ook vir die egpaar gewerk het, is steeds op vrye voet.

Hulle word daarvan verdink dat hulle die geliefde en gerespekteerde De Kock-egpaar op Vrydag 2 Junie wreedaardig vermoor het.

Dié moord raak die gemeenskap diep en nes die medelye ten tyde van die dubbele moord uit alle oorde ingestroom het, het die petisies ook ingestroom om borgtog teen te staan.

SP Tredoux het ’n petisie met handtekeninge namens die Sandveld-landbouvereniging aan kapt. Bossie Bostelmann, die Laaiplek-polisiehoof, oorhandig, wat dit namens die hof ontvang en geteken het. Nog petisies is oorhandig deur Johnny da Silva (Velddrif-sakekamer), Uys van der Westhuizen (Agri Wes-Kaap landelike veiligheid), Boffie Strydom (burgemeester van die Weskus-distriksmunisipaliteit), Eben du Toit (Velddrif-buurtwag) en Geena Smit (Vrouelandbouvereniging).

In die petisies is verwys na die De Kocks se positiewe bydrae tot die plaaslike gemeenskap en veral hul produktiewe boerdery wat werk aan 32 mense verskaf het.

Van der Westhuizen het gesê ’n aanval op ’n boer of plaaswerker is in werklikheid ’n aanval op die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Die brutale en onnodige lewensverlies kan natuurlik nie in geldelike terme gemeet word nie – veral nie aan geliefdes en goeie vriende nie. In klein gemeenskappe het brutale dade van geweld ’n langdurige uitwerking op hegte verhoudings”.

In die petisies word verwys na artikel 60(4) van die Strafproseswet (wet 51 van 1977) wat onder meer bepaal dat die belange van geregtigheid nie die vrylating uit aanhouding van ’n beskuldigde toelaat wat heel waarskynlik mense se lewe kan bedreig of sy verhoor sal probeer ontduik nie.

Al die partye is dit eens dat Pone heel moontlik net weer oor die grens kan vlug as hy vrygelaat sou word.

Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, het in ’n video, wat ook Maandag uitgereik is, sy teenkanting van borgtog aangedui.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder vir die Wes-Kaap, het vroeër gesê die De Kocks is dié noodlottige middag omstreeks 19:00 laas lewend gesien.

’n Vrou wat op die plaas bly, het eers die Sondag, 4 Junie, op hul lyke afgekom.

Die polisie vermoed Pierre was in die buitegebou by die plaaswinkeltjie besig. Of die aanvallers aanvanklik iets wou koop of die aanval beplan is, is nog onduidelik. Daar was tekens dat ’n struweling ontstaan het waarin Pierre onder meer ’n sny- en ’n kapwond aan die nek opgedoen het. Die aanvallers het sy lewelose liggaam in dié gebou agtergelaat.

Belinda moes later, omstreeks 19:00, by die huis gekom en reguit na die slaap­kamer gestap het, want die aanvallers het haar hier oorval. Sy is ook in die nek gesteek en gesny – in die klere waarmee sy Vrydag nog by haar onderneming, Droomland, in Piketberg, gewerk het.

Die aanvallers het gevlug en niksver­moedende werkers het tot die Sondagmid­dag nie naby die plaasopstal gekom nie.

Die De Kocks se klein skoothondjie het Sondagmiddag by ’n vrou, wat op die plaas bly, se huis kom alarm maak, waarna sy na die opstal is en op Belinda afgekom het. Die polisie het Pierre se liggaam in die buitegebou gekry. Speurders verbonde aan die provinsiale speureenheid teen georganiseerde misdaad ondersoek die saak. Die motief vir die moorde was nie roof nie aangesien niks uit die huis vermis word nie.

Pone kom volgende Maandag (13 November) die laaste keer in die Laaiplek-landdroshof voor, waarna die saak na die hooggeregshof sal gaan.

Hy het vandees­week nog nie ’n regsverteenwoordiger gehad nie en dring aan op ’n tolk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article