Kiesers wat nog nie geregistreer het om in volgende jaar se nasionale verkiesing te stem nie, word aangemoedig om die naweek hul naaste registrasiepunt te besoek.


Honderde inwoners het hierdie naweek, Saterdag 18 en Sondag 19 November, die geleentheid om vir die 2024- nasionale verkiesing te registreer.

Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie in die Wes-Kaap, staan altesaam 1 572 stembusse vandag en môre in die provinsie gereed om kiesers met hul registrasie vir volgende jaar se nasionale verkiesing te help.

Meer as 3,1 miljoen inwoners in die Wes-Kaap is op die kiesersrol, terwyl die OVK hoop nog inwoners sal registreer. Jong mense is veral deur die OVK geteiken om vanjaar te registreer.

Die onlangse Sensus 2022 het getoon die land se bevolking het tot 62 miljoen inwoners gestyg, van wie sowat 39,7 miljoen die voldoende ouderdom is om te kan stem. Die landwye kiesersrol staan tans op 26,2 miljoen en verteenwoordig 66% van die inwoners wat in aanmerking kom om te stem.

Die provinsiale verkiesingsbeampte Michael Hendrickse het Donderdag 16 November tydens ’n perskonferensie gesê hoekom dit vir alle Suid-Afrikaners belangrik is om te registreer.

“Registreer, dan kan jy besluit vir wie jy gaan stem. En as jy gestem het, kan jy besluit hoe om jou verteenwoordigers vir hul aksies verantwoordbaar te hou. Wanneer hulle by jou huis kom en vra vir wie jy gaan stem, vra hulle wat is hulle plan,” het Hendrickse mense aangemoedig.

Inwoners wat die registrasiepunte wil vermy, kan aanlyn registreer by www.registertovote.elections.org.za. Vir meer oor jou naaste registrasiepunt, stuur ’n SMS na 32810 (R1 per SMS); WhatsApp “Hi” na 060 088 0000 of skakel die inbelsentrum by 0800 11 8000. Inwoners moet hul identiteitskaart of groen ID-boek, of ’n tydelike identiteitsertifikaat, saamvat wanneer hulle gaan om te registreer. Registrasiepunte is beide dae oop tussen 08:00 en 17:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article