’n Familie-twis in Citrusdal oor R50 het Maandag 13 November tot die dood van Makazima Mphidi (27) in die Citrusdal-hospitaal gelei. Mphidi is Sondag 12 November met ’n besering aan sy hand en meswonde in die bors en rug in die hospitaal opgeneem. Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het die ondersoek oor die omstandighede van Mphidi se dood tot die inhegtenisneming van twee familielede, Aphelele Renene en Thulani Geja, albei iets in die twintig, gelei. Hulle het Woensdag 15 November in die Citrusdal-landdroshof verskyn.

Die Saldanha-polisie ondersoek ’n moordsaak en drie poging-tot-moord-sake ná ’n vlaag geweld in Diazville die afgelope Saterdag 11 November:

Pablo Markus (30) van Saldanha is omstreeks 01:50 dood in sy bed in Fortestraat, Diazville, gekry. Hy het skietwonde in die kop gehad. Die moordenaars het die huiseienaar, ’n 31-jarige man, twee keer in die skouer gesteek en ’n vrou van iets in die twintig is later met ’n skietwond in die kop en erg aangerand agter die klerewassery in Diazville gekry. Skote is ook dié aand omstreeks 20:00 op ’n 16-jarige seun in Diazweg, Saldanha, geskiet. Die seun is nie gewond nie, maar die polisie ondersoek ’n klagte van poging tot moord.

’n Groep mans wat ’n 28-jarige man Vrydag om 22:30 in Renonkelstraat, Moorreesburg, met messe en pangas aangeval het, het hom in die hand raakgesteek. Drie van die vermeende aanvallers, Breyton Joubert (20), Jonathan Ontong (41) en Johannes Ontong (45), het Maandag in verband met die voorval in die landdroshof verskyn.

Abongile Damoyi (32) en Onke Sikhosana (30) het Maandag in Vredendal in die landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord nadat hulle Saterdagaand 11 November glo ’n 43-jarige man verskeie kere met ?mes gesteek het.

Verskeie skote is Maandagoggend 13 November omstreeks 00:40 na ’n huis in Makoustraat, Vredenburg, gevuur en ’n petrolbom is na ’n kamervenster gegooi. Die 27-jarige slagoffer op wie die aanslag gemik was, is nie beseer nie, maar ’n poging-tot-moord-saak word ondersoek.

Lee-Andrew Arnolds (34) se lewelose liggaam is op Saterdag 11 November om 21:30 op die Lambertsbaai-pad in die middel van die pad gekry. Hy is blykbaar deur ’n voertuig getref en is op die toneel dood. Die Lambertsbaai-polisie ondersoek ’n klagte van strafbare manslag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article