Pierre en Belinda de Kock.Foto: Argief


Die hofsaak van ’n Lesotho-burger wat teregstaan op die moord op Pierre (59) en Belinda de Kock (56) van Aurora, is weer uitgestel.

Phindile Khaya Pone, ’n plaaswerker op die De Kocks se Holvlei-teeplaas, het Maandag 13 November die derde keer in die Laaiplek-landdroshof op twee aanklagte van moord verskyn.

Twee ander verdagtes wat moontlik met die moord verbind kan word, het ook op dié plaas – wat werk aan 32 mense verskaf het – gewerk.

Verteenwoordigers uit verskillende sektore van die Sandveld- en Weskusgemeenskap het verlede week verskeie petisies met duisende handtekeninge aan kapt. Bossie Bostelmann, die Laaiplek-polisiehoof, oorhandig. Hy het namens die hof ontvangs erken. Daarin maak hulle kapsie teen borgtog vir Pone.

Die geliefde en gerespekteerde De Kock-egpaar is Vrydag 2 Junie wreedaardig vermoor – Pierre in die gebou wat hul plaaswinkel huisves en Belinda in die hoofslaapkamer. Pierre het onder meer ’n sny- en ’n kapwond aan die nek opgedoen en Belinda is ook in die nek gesteek.

Die polisie vermoed hulle is laat die Vrydagmiddag vermoor, maar omdat werkers gewoonlik nie oor naweke daar kom nie, het niemand onraad vermoed totdat een van hul skoothondjies by ’n vrou op die plaas se huis opgedaag het nie.

Dié vrou het op Belinda se lyk afgekom en die polisie gekontak.

Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, is die hofsaak in die Laaiplek-landdroshof tot Woensdag 22 November uitgestel sodat Pone ’n tolk en ’n regsverteenwoordiger kan kry.

Hy gaan dan na verwagting om borgtog aansoek doen, waarna die saak na die hooggeregshof sal skuif.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article