Vrygewiges onder veral motorfietsryers het toegesien dat die jaarlikse Cancervive-kankerbewusmakingsdag vir mans op die Weskus vanjaar sowat R15 000 vir dié organisasie sonder winsoogmerk insamel.
Volgens die organiseerder, Elfrieda Engels, self ’n kankeroorwinnaar en ook ’n motorfietsentoesias, beywer Cancervive hom om mense bewus te maak van kanker en ondersteun hulle ook kankerlyers en hul families.
Die meeste van die geld is Saterdag (11 November) met ’n veiling ingesamel. Mense kon onder meer bie op geskenkbewyse vir kos en drank, etes by van die beste restaurante en kuierplekke in die Weskus, bottels wyn, skilderye, skoonheids- en sonskermrome, skryfbehoefte-geskenkpakkies, sitkamerbankkussings, ’n leerhandsak, kaartjies na ’n teatervertoning en rugby-gedenkwaardighede.
Die hoogtepunt van dié dag op die perseel van die Phoenix Biker Pub in Vredenburg was die mense wat die uitdaging aanvaar het om hul hare ter wille van die projek te kleur en af te skeer.
Cancervive kweek bewustheid van kanker en help om simptome vroegtydig op te spoor en die boodskap van hoop oor te dra. . Volg Cancervive op Facebook en Instagram.





