In dieselfde asem wat die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE) verlede week sy kommer oor toenemende voorvalle van teistering van Kaapse pelsrobbe langs die Suid-Afrikaanse kus uitgespreek het, is ’n 15-jarige seun op Elandsbaai betrap waar hy twee robbe met klippe doodgeslaan het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, is hy Woensdag 15 November by die twee dooie robbe op die strand gekry. Hy het aan polisiebeamptes erken dat hy die robbe doodgemaak het.

Die seun het Vrydag 17 November en weer Maandag 20 November in die Piketberg-landdroshof verskyn.

DFFE het sy kommer in ’n mediaverklaring uitgespreek oor robvoorvalle waarin honde toegelaat is om rustende robbe te nader en aan te val; klippe na robbe gegooi is; robbe uitgelok is om mense vir sosialemediabeeldmateriaal te jaag; en robbe met stokke vir fotogeleenthede geterg is.

Kanovaarders het ook robbe met spane geslaan; mense het robbe vir geldelike gewin gevoer om voorsiening vir fotogeleenthede met die rob te maak; en daar was ’n beweerde verdrinking van twee robbe deur lede van die publiek.

Die departement herinner die publiek daaraan dat die Regulasies vir Bedreigde of Beskermde Mariene-spesies (2017) robbe as ’n beskermde spesie lys.

Daarom is hierdie soort interaksie en ook die voer van robbe gevaarlik vir die betrokke mense en robbe, maar is dit ook verbode en ’n strafregtelike oortreding.

Die departement het onlangs saam met die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gewerk om vier individue in Khayelitsha daaraan skuldig te bevind en te vonnis nadat hulle aangekeer is omdat hulle ’n rob tot sy dood gestenig het.

“Kaapse pelsrobbe is wilde diere en kan onvoorspelbaar aggressief teenoor mense word, veral wanneer hulle geteister word, wat ernstige beserings tot gevolg kan hê.”

Die departement beklemtoon dat die genoemde voorvalle as teistering beskou word en dus ’n strafregtelike oortreding ingevolge die voorgenoemde regulasies is en ook gevaarlik vir die publiek en vir die robbe is.

Maatreëls bestaan om enige beseerde rob te rehabiliteer of mediese sorg te verskaf, en die publiek word genooi om enige voorval by die polisie, die departement of die DBV aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article