Ter illustrasie Foto: pexels.com


Vier aggressiewe Lutzvillese honde moes die naweek van kant gemaak word nadat die huis waar hulle woon se hekke oopgestaan en hulle ’n man in die straat doodgebyt en nog een beseer het.

Kapt. Tania Helfrich, polisiewoord­voerder, benadruk dat honde-eienaars weer eens moet besef dat dit ontsettend belangrik is om seker te maak dat die hekke wat toegang tot die straat verleen, deeglik toe is wanneer hulle van die huis af wegry.

’n Man van 38 jaar met verskeie bytwonde sterk in die hospitaal aan. Hy is op Sondagoggend 19 November omstreeks 05:00 in Wandelstraat, Uitkyk, deur die honde aangeval.

Net ’n bietjie later, omstreeks 05:30, is ’n 47-jarige gestremde man, genaamd Bam, egter dood nadat dié honde hom aangeval en gebyt het.

Dit blyk dat die hek van die erf oopgestaan het toe die oorledene en die slagoffer verby die huis geloop het en deur die honde aangeval is.

Helfrich het gesê die eienaar van die honde was nie tuis ten tyde van die voorvalle nie.

Louise van Zyl, bestuurder van die dierebeskermingseenheid in Darling, het bevestig dat die vier honde Sondag na hulle geneem is om van kant gemaak te word.

Die Lutzville-gerigte Facebook-groep, “Lutzville in loving memory of”, het hul medelye met Bam se dood uitgespreek en nuwe munisipale verordeninge bepleit wat honde-eienaars sal dwing om seker te maak dat hul persele omhein is, en wat probleemdiere daadwerklik in toom sal hou.

Helfrich het verduidelik dat in hierdie soort gevalle die hof alleen kan besluit of daar iemand in verband met die voorvalle aangekla moet word, en indien daar iemand aangekla word, weens watter oortreding.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article