Internasionale wynproduksie is op die laagste vlak sedert 1961 te midde van wingerde wat onder uiterste weersomstandighede deurloop, het die internasionale organisasie vir wingerd en wyn (OIV) Dinsdag gesê.
Produksie staan op sowat 244 miljoen hektoliter, ’n daling van 7% teenoor ’n jaar gelede.
“Uiterste weerstoestande soos vroeë ryp, swaar reënval en droogte het die uitset wêreldwyd weer erg beïnvloed,” sê dié organisasie.
In Australië, Argentinië, Chili, Suid-Afrika en Brasilië het produksie met tussen 10% en 30% gedaal.
Italië is nie meer die wêreld se topprodusent nie, nadat sy produksie met 12% gedaal het. Frankryk is nou weer in die eerste plek. Spanje bly die wêreld se derde grootste wynprodusent, hoewel sy produksie met 14% gedaal het. Dit is minder as sy gemiddelde daling van 19% die afgelope vyf jaar.
Die silwer randjie, as dit só gesien kan word, is dat dit die wanbalans in die mark kan help verlig. In die konteks van ’n afname in wêreldverbruik en heelwat voorraad in baie wêreldstreke, kan die lae produksie ekwilibrium in die wêreldmark skep, sê die OIV.
Hoewel die OIV aandui uiterste weersomstandighede raak wynproduksie, het hy dit nog nie regstreeks met klimaatsverandering verbind nie, sê Iñaki Garcia de Cortazar-Atauri van die nasionale agronomiese navorsingsinstituut van Frankryk. Hy is ’n kenner van die invloed van klimaatsverandering op die landbou en sê die skade in Italië was weens bewerkte grond wat water nie so goed soos natuurlike grond kan absorbeer nie.
’n Mens sien egter dat uiterste weersomstandighede al hoe meer voorkom, sê hy. Dit sluit in hittegolwe of reën in sekere streke, wat tot bestaande probleme soos muf bydra.
Rico Basson, bestuurshoof van South Africa Wine, sê Suid-Afrika is die wêreld se sesde grootste produsent van wyn, met 9,3 miljoen hektoliter uit die algehele wêreldproduksie van 244 miljoen hektoliter, of 3,8% van wêreldproduksie.
Die drie groot wynproduserende lande in die wêreld is Frankryk, Italië en Spanje, wat gesamentlik 49% van wêreldproduksie bydra en waar die variasie in oes die grootste invloed het.
Basson sê die Suid-Afrikaanse 2023-oes was 10% kleiner as dié van 2022 weens klimaatstoestande.
Suid-Afrika verkoop jaarliks 55% van sy produksie in die binnelandse mark en voer 45% na meer as 120 lande wêreldwyd uit.
“Uitvoer is uiters belangrik vir die Suid-Afrikaanse wynsektor en met ’n waarde van R10 miljard ’n belangrike bron van inkomste vir dié sektor én die Suid-Afrikaanse ekonomie, sowel as vir werkskepping.
“Klimaat speel ’n beduidende rol oor die wêreld heen en hoewel ons duidelike risiko’s en klimaatversagtingstrategieë gekombineer met tegniese kundigheid het, is daar dikwels steeds ’n uitwerking.”
Basson sê verder die elektrisiteitsontwrigting gedurende die groeiseisoen en oestyd het wel ’n invloed gehad en gewis die koste van produksie verhoog.
“Die voorraadvlak van die bedryf is tans op ’n ewewigsvlak, anders as ander lande wat aansienlike surplusvoorraad het, en die sektor kan geleenthede benut ten spyte van ’n moeilike handelsomgewing weens verbruikersinflasie, logistieke ontwrigtings en geopolitieke uitdagings.
“Die positiewe aspek van die lae globale produksie is dat dit ooreenstem met die verminderde vraag en soos die OIV sê, ‘voorraadvlakke wêreldwyd is terug in balans’.
“ ’n Verdere positiewe aspek is ons wyntoerismesektor. Die wynbedryf dra R55 miljard tot die BBP van Suid-Afrika by, wat werksgeleenthede insluit, maar ook ’n wyntoerismesektor wat eksponensiële groei ervaar met besoeke deesdae hoër as voor .Covid.”





