Die omgewingsorganisasie Protect the West Coast (PTWC), wat hom vir die behoud van die Westelike kus van Suid-Afrika beywer, het verlede week die mynbouafdeling van die Mail & Guardian Greening the Future-toekennings in Johannesburg gewen.
Dié gesogte prys is in dieselfde maand dat dié organisasie sonder winsoogmerk sy derde verjaardag vier.
Miles Masterson, die kommunikasie- en geldinsamelingsbestuurder van die PTWC, het gesê dié organisasie bestaan uit ’n groep passievolle en toegewyde deeltydse werkers en vrywilligers, wat in drie jaar – sonder hulpbronne – ’n gerekende spreekbuis geword het in die stryd teen onwettige strandmynbou aan die Weskus.
“Terwyl PTWC ’n gefokusde media-kollig op ongereguleerde mynbou gewerp het, het dit ook kommunikasie tussen teenmynbou-aktiviste en plaaslike gemeenskappe bevorder; openbare deelname in die mynbou-aansoekproses bevorder; suksesvolle regstappe teen die Trans Hex-mynmaatskappy gelei; en bystand en ondersteuning aan verskeie regsuitdagings gelewer,” het Masterson benadruk.
Die M&G Greening the Future-pryse, wat in 1998 bekendgestel is, gee erkenning aan toonaangewende Suid-Afrikaanse individue, maatskappye, gemeenskappe en organisasies sonder winsoogmerk, wat omgewingsprobleme oor die land heen aanpak – van verlies aan biodiversiteit tot besoedelde lug.
“PTWC is ’n voorbeeld van eko-aktivisme en het ’n positiewe uitwerking op die omgewing en mense van die Weskus,” het die M&G Greening the Future-webwerf gesê ter erkenning aan die organisasie se werk en aktivisme in die mynbouafdeling.
“Ek is verheug om die eerste prys te wen,” het Mike Schlebach, besturende direkteur van PTWC, gesê.
PTWC het die afgelope drie jaar geweldig baie moeite gedoen oor radio, op die grond en in die howe om onwettige mynbou aan die Weskus te probeer bekamp.
“Dit is wonderlik om erkenning te kry vir al ons harde werk. Die waarheid is egter – hoewel ons baie bereik het, duur die mynboubedreiging onverpoosd voort, en in baie opsigte het die stryd net begin.”
PTWC benodig dringende finansiering om sy werk voort te sit en hoop hierdie prys sal help om die noodsaaklikheid van sy taak aan die wêreld te wys.
“Dit sal help om die momentum te verskaf wat ons in 2024 gaan benodig om ons stryd teen onwettige mynbou voort te sit.”
Hulle wil graag volgende jaar op die gebiede van mediapublisiteit, onderwys, rehabilitasie, openbare deelname en die regsarena uitbrei.
Besoek hul webwerf by protectthewestcoast.org.





