Afrikaanse mense geniet min dinge so baie soos ’n diep boerseun met ’n rasperstem en ’n kitaar in die hand – wat nog te sê as dié boerseun liedjies skryf wat mense in algehele vervoering het.

Riaan Benadé is nie net een van hulle nie, maar voorwaar ook ’n vars briesie in die Afrikaanse musiekbedryf, wie se naam nog lank op mense se lippe gaan wees.

Riaan tree Woensdag 13 Desember om 20:00 by Club Mykonos in Langebaan op.

Riaan het as liedjieskrywer in die musiekbedryf vinnig begin spore trap. Dié veelsydige kunstenaar is nie net die skrywer vir van Coleske Artists se grootste sterre nie, maar ook vir homself met sy debuutalbum, Spontaan.

Sy solo-album het baie spontaan ontstaan en dus is die titel – Spontaan – nie net ’n titel van een van die snitte nie, maar ook ’n goeie beskrywing van hoe dié album gebore is.

Riaan is ’n mense-mens met ’n passie vir ander, die natuur en jag en kyk altyd wat hy vir die mense om hom kan doen.

“Ek hoop ek sal buiten as liedjieskrywer onthou word as iemand wat altyd ander gehelp het,” sê hy.

Kaartjies vir die vertoning kos R250 per persoon en kan by quicket.co.za bespreek word.

Belangrike inligting: Sitplekke is teaterstyl en geen plekke kan bespreek word nie.

Die deure maak om 19:00 oop.

’n Kontantkroeg is beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article