Vyf gewapende rowers het doodluiters Dinsdagoggend (5 Desember) by die “onderste” Shoprite in Vredenburg se hoofstraat ingestap, hopende dat hulle ongesiens tussen die ander klante onder die veiligheidsbeamptes se wakende oog sou kon deurglip.
Dit was omstreeks 07:30, volgens die polisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich, nét nadat die winkel vir die dag se sake oopgemaak het.
Die vyfstuks het egter verdag genoeg voorgekom dat ’n wakker personeellid die paniekknoppie gedruk het. Dit het ’n lid van die gewapendereaksie-eenheid van die TSU-sekuriteitsmaatskappy die winkel laat instap om ondersoek in te stel.
Daar was juis dié dag die gebruiklike verhoogde sekuriteit in en om die winkel omdat dit die dag was waarop die maandelikse maatskaplike toelae van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid uitbetaal is.
Volgens omstanders het twee skote, wat een van die rowers afgevuur het, die kop van die sekuriteitsbeampte rakelings gemis.
Helfrich het gesê vier van die rowers was met vuurwapens gewapen en een het ’n mes by hom gehad. Verskeie skote is tussen die sekuriteitswagte en die rowers afgevuur.
Lede van die Vredenburg-polisie en die Saldanhabaai-munisipaliteit se wetstoepassers was binne enkele minute by die winkel en die gebou is omsingel.
Drie van die rowers wat in die winkel probeer wegkruip het, is vasgetrek en in hegtenis geneem.
Twee rowers het ’n sydeur oopgeskop ten aanskoue van werknemers van omliggende sake-ondernemings. V Na bl. 2.




