Die twee plaaslike Mamre- en Hamlets-7’s-rugbyspanne lag vanjaar al die pad bank toe nadat die tweede Mamre-OK-gemeenskap-sewestoernooi ’n reusesukses was.
Volgens Angelo Arendse, voorsitter van die reëlingskomitee, het die klubs elk meer as R25 000 uit die toernooi verdien nadat verlede jaar geen wins gemaak is nie. Die klubs kan die bedrag vergroot met die televisiestelle wat Hisense geborg het. Volgens die voorsitter is die stelle byna R10 000 elk werd en kan die twee klubs self besluit wat hulle daarmee gaan maak. Een van die twee voorstelle is die klubs kan dit verkoop of met ’n lootjiekompetisie laat uitloot.
Volgens Usen Jacobs, die eienaar van OK Mamre en hoofborg van die toernooi, is hy baie trots op wat die komitee vermag het. “Ons kan dit nog beter en groter doen en die komitee is reeds besig met volgende jaar se toernooi.” Arendse het die borge – OK Mamre, Remax, Hisense, die Stad Kaapstad, Talisman, Central Butchery, WCB, die Wes-Kaapse regering, Peninsula Beverage (Coke), APL Construction, Brezano Plant Hire, HJO Enterprise en RHI bedank vir die sukses van die toernooi.
Rugby in Weskus Nuus-land is blakend gesond met twee klubs wat nuwe hoogtes bereik het. Atlantis het ná jare in die laagste liga in WP ’n trappie opgeklim na Super Liga C. Die span speel nou slegs een liga laer as Hamlets, wat dié seisoen na Superliga B geskuif het.
Hamlets het die seisoen nie waffers gevaar nie, maar Weslander se susterskoerant Weskus Nuus het vertroulik verneem die klub werk reeds hard agter die skerms om weer in die topliga te speel.
Mamre-rugbyklub is as die Weskus-kampioen gekroon en die span het ook in die Sanlam Boland Top-12 gespeel. Mamre se lang seisoen het egter sy tol tydens die 7’s-toernooi geëis.




