Ná byna 20 jaar in die vervoerbedryf maak Bonita Jonkers ’n skuif weg van die Weskus na Mpumalanga.
Bonita het haar taxi-vervoeronderneming in 2016 geregistreer. Aan die begin het sy kleinskaals vriende rondgery. Dit het later die groter onderneming geword wat sy vandag bestuur.
Bonita se storie begin by haar pa wat ook ’n taxi-eienaar was. Albei haar ouers was sakegeoriënteerd. Haar pa het ook een van sy taxi’s, Laisla Bonita, na haar genoem. As ’n kind het Bonita altyd agter die stuurwiel van haar pa se motor ingeklim en speel-speel gery.
“Soos my pa altyd op ritte gegaan het, het hy my saamgevat en ek het so gesien hoe hy met mense interaksie het. Hy was ’n baie vriendelike mens,” sê Bonita.
Dis waar die begeerte vandaan gekom het om eendag haar eie taxi te besit.
Bonita was die eerste van die Jonkers-sibbe wat haar rybewys gekry en in haar pa se voetspore gevolg het. Sy het ook die besluit geneem om haar vervoeronderneming Laisla Bonita Transportation te noem. Daagliks vervoer sy skoolkinders en personeellede.
Bonita vertel dat die gevoel van opgewondenheid haar oorgeneem het toe sy haar eerste taxi gekoop het.
“Dit was ’n groot prestasie wat ek ook bereik het met die ondersteuning van my man. Ek kon dit nie sonder hom gedoen het nie. Hy het die liefde en passie gesien vir dit wat ek wou doen.”
As iemand wat in die vervoerbedryf werk en daagliks deur mense omring is, veral gereelde klante, leer ’n mens mekaar goed ken. Dit is iets waarvan Bonita kan getuig.
“Daar het altyd stories uitgekom, maar wat die lekkerste was, ek kon daaruit leer en hulle kon van my ook leer. Daar was ook baie groot respek.”
Bonita voeg by dat sy wel die Weskus gaan mis, maar sy sien ook uit na wat die toekoms vir haar inhou.
Sy moedig mense aan om lief te wees vir dit wat hulle wil aanpak.
“Werk hard en gee jou alles.”





