Die mishandeling van seeleeus en robbe aan die Weskus wek groot kommer. Foto:


Die teistering en mishandeling van seeleeus en robbe wek groot kommer by inwoners van St.Helenabaai.

’n Inwoner van die gebied het haar ervaring met Weslander gedeel nadat sy Sondag 10 Desember ’n hulpelose babaseeleeu wat met ’n frisbee gegooi is op die strand van St.Helenabaai teëgekom het.

Volgens die inwoner was daar al ’n paar voorvalle waar mense met die diere in aanraking gekom het en sy sidder om te dink wat die gevolge sou kon wees.

“Met een geleentheid het ’n groep kinders ’n seeleeu aangeval en hulle is gebyt. Daar was ook ’n geleentheid toe nog ’n groep kinders langs ’n volwasse seerob gelê het om ’n selfiete neem. Hy was nog rustig, maar dinge kon so vinnig verander en lelik geword het.”

Weslander het in November berig oor ’n 15-jarige seun wat twee robbe in Elandsbaai met klippe doodgeslaan het (“Seun (15) hét robbe geslaan”, Weslander, 23 November 2023).

Hy is in die daad betrap en het in die Piketberg-landdroshof verskyn.

In ’n persverklaring sê die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE) hy is bewus van die toenemende voorvalle van teistering deur die publiek van Kaapse pelsrobbe langs die kus.

Volgens die departement sluit die voorvalle in honde wat rustende robbe nader of aanval, mense wat robbe met klippe gooi en die jaag van robbe vir fotogeleenthede.

Die departement herinner die publiek dat die regulasies vir bedreigde of beskermde mariene spesies, 2017, robbe as ’n beskermde spesie lys.

“Daarom is hierdie soort fisieke interaksie met, en voer van, robbe nie net gevaarlik vir die mense en robbe wat betrokke is nie, maar dit word ook verbied,” lui die persverklaring.

Die inwoner pleit by besoekers en inwoners om hulself kundig te maak oor seeleeus en robbe om sodoende hul- self en die dier te beskerm.

“Ons moet hierdie diere te alle tye beskerm en respekteer,” sê die besorgde inwoner.

  • Skakel die Swartland en Weskus Dierebeskermingsvereniging (DBV) by 022 492 2781 (Darling) of 022 289 0998 (Vredenburg) of vir na-ure noodgevalle skakel 082 414 7153 indien jy ’n rob of seeleeu of enige ander diere kry wat vermoedelik in nood verkeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article