Juffrou Ceilia van As.


Celia van As het ná 42 jaar in die onderwys afgetree.

Van As was sedert 1981 ’n onderwyser by die Laerskool Saldanha. Dit is dieselfde skool waar sy self van gr. 1 tot gr. 7 voltooi het.

Van As het haar studies by Wellington Onderwyskollege en Denneoord Onderwyskollege in Stellenbosch voltooi, waarna sy dadelik by die Laerskool Saldanha begin klasgee het. “Daar was destyds nog onderwysers wat vir my klasgegee het en toe is ons kollegas,” vertel sy.

Volgens Van As het sy net twee keuses ná matriek gehad – onderwys of verpleging. Sy het die onderwys-rigting gekies.

“ ’n Onderwyser bly altyd ’n student ook. Alles verander gedurig en ’n mens moet voortdurend op hoogte bly van alles. Dit is ’n roeping en nie ’n beroep nie. ’n Mens is deel van die vorming van mense.”

Vir Van As was die hoogtepunte elke keer die einde van die jaar wanneer sy teruggekyk en gesien het hoe elke kind deur die jaar ontwikkel het. “Ek gaan my kollegas, die kinders en die bedrywigheid van elke dag mis. Niks was ooit voorspelbaar of vervelig nie.”

Vir nou sê Van As sy gaan eers rus, vakansie hou en kuier. “Daarna sal ek beslis iets vind om produktief te bly.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article