Inwoners van St. Helenabaai is steeds verslae oor die gebeure vandeesweek toe die “juweel” van die Weskus, die ikoniese Shelley Point Hotel & Spa, in vlamme opgegaan het.
Die brand het Dinsdag (2 Januarie) omstreeks 06:00 ontstaan. Aangehits deur hewige winde het die brand vinnig deur die gewilde hotel versprei en groot skade aan die hoofdele van die gebou aangerig.
Die hulp van omliggende munisipaliteite asook twee helikopters is ingeroep om die brand te bestry.
Volgens die Saldanhabaai-munisipaliteit is meer as 200 gaste en 130 werknemers in net minder as 12 minute uit die hotel ontruim.
Die brand is eers omstreeks 15:00 geblus en die branddienste was teen laatmiddag nog besig met die skoonmaakoperasies.
Groot gedeeltes van die hotelkompleks, waarvan baie uit rietdak bestaan, is in puin gelê. Die oorsaak van die brand is onbekend en ’n forensiese span ondersoek tans die oorsaak daarvan.
Die eienaars van die hotel, die Lone Bull Group, het gesê hulle is verpletter deur die ramp en dat dit sowat R300 miljoen sal kos om die hotel te herbou
Dit was “afgryslik” het Shelley Point se uitvoerende hoof Carel Steenkamp aan Netwerk24 gesê.
“Ek was heeltemal geskok. Dit was die aakligste ding wat ek nog in my lewe gesien het. Om ’n hotel soos hierdie in vlamme te sien opgaan, was die hartseerste ding,” het Steenkamp gesê.
’n Ondersoek na die brand sal bepaal of die luukse hotel herbou gaan word.
“Daar is sekere kamers aan die onderkant van een gedeelte van die hotel wat nie afgebrand is nie. Maar met die hoeveelheid seewater wat uit die twee helikopters gedaal het, sal die waterskade egter groot wees. Dit sal waarskynlik ’n afskrywing wees, “ het Steenkamp gesê. “ [Al] wat ons kon red, was ’n kasregister.”
Die hotel was heeltemal uitgeboek toe die brand ontstaan het.
Steenkamp het berigte ontken dat die hotel besig was om verkoop te word.
Die hotel is in 2006 gebou, en opknappings is gemaak om die skoonheid van die gebou se argitektuur te verbeter.
“Dit was die mooiste hotel in die land,” het hy gesê. “Die hartseerste deel van die brand is die uitwerking wat dit op die personeel sal hê.”
Hy het gesê die meeste werknemers is van die St. Helenabaai-omgewing, en prosesse is aan die gang om te kyk hoe hulle bygestaan kan word.
“In die stadium het ons steeds met die polisie en versekeringsmaatskappy te doen, en daar is prosedures wat hulle moet volg voordat ons as maatskappy enige groot besluite kan neem, en dit sal ’n rukkie neem,” het Steenkamp bygevoeg.
Die hotel se hoofbestuurder, Petrus Munro, het aan Netwerk24 gesê deel van die hotel se gesondheids- en veiligheidsprotokol was om die gevare te verstaan wat met grasdakke gepaardgaan.
“Die hotel het ’n gesondheids- en veiligheidskomitee, met ’n span individue wat opgelei is in basiese brandbestryding, basiese gesondheid en veiligheid, en vlak 1-noodhulp. Hierdie span het sy kwartaallikse gedokumenteerde vergaderings gehad en het gesondheids- en veiligheidsbeoordelings en ontruimingsoefeninge soos vereis,” het Munro gesê.
Hy het bygevoeg al die brandtoerusting is gereeld volgens wetlike vereistes gediens.
Die bestuur het verder hulle diepste dankbaarheid teenoor die uitsonderlike spanne van die Saldanhabaai-munisipaliteit, Weskus-distriksmunisipaliteit, Bergrivier-munisipaliteit en Swartland-munisipaliteit se brandweer en bystand van die Wes-Kaapse rampbestuur uitgespreek. “Hulle onvermoeide en moedige pogings het ’n groot rol gespeel om die brand in bedwang te probeer bring en die skade te verminder.
“Verder betuig ons, ons hartlike waardering aan die Shelley Point-landgoed-inwoners asook die hele St. Helenabaai-gemeenskap. Julle ondersteuning, deernis en solidariteit gedurende hierdie uitdagende tyd was vir ons ’n bron van krag. Die bande wat oor die jare met ons gemeenskap gevorm is, is ’n bewys van die veerkragtigheid en eenheid wat St. Helenabaai definieer.
“Ons is ontsaglik dankbaar vir die betuigings van simpatie en bemoediging wat uit alle oorde ingestroom het.”





